Tienie Snyman, ou bekende boer van Hazyview, dood kort na aftrede
Toe die bekende boer van Hazyview, Tienie Snyman, so 'n jaar of meer gelede finaal uit die Laeveld weg is om op Stilbaai te gaan aftree, het hy sy jeugherinneringe van bykans 70 jaar hier met ons gedeel.
Min het ons geweet dat hy ook die lewe so kort hierna sou groet, en ons vind dit van pas om vir oulaas weer Tienie se gedagtes hier te plaas:
Inwoner groet Hazyview met ‘n hart vol herinneringe
Dis tyd om Hazyview en die pragtige Laeveld na 68 jaar te groet.
Daar is al heelwat geskryf en gepraat oor dié dorp se geskiedenis en ek gaan liefs volstaan en afskeid neem met ‘n paar goeie stories wat hopelik die lagspiere sal prikkel.
Ek het in 1952 hier as klein seuntjie aangekom, te klein om te onthou wat ek tóé waargeneem het. Tog is daar later goeie herinneringe wat altyd vasgesteek het.
Ons het van Standerton gekom, waarna daar ook heelparty ander boere hierheen gevlug het om van die koue te ontsnap. My pa was ook van die eerstes wat hier met piesangs begin boer het. Dit was ‘n tydperk toe daar nie elektrisiteit was nie en daar talle kanale vanuit die Langspruit-, Sabie- en Witwatersriviere gegrawe was om water aan plase te voorsien.
In tye van watertekort het daar ook heelparty onderonsies en sonde met die buurmanne wat mekaar se water snags gesteel het, ontstaan. Sommiges het soms by die sluise geslaap en ander het weggekruip daar naby, net om as die buurman die klip uit sy sluis verwyder het en weggery het, dit weer terug te plaas. Daai klippe het behoorlik voete gedurende die nag gekry!
My pa het die eerste dam in Langspruit gebou en was ook die eerste wat water daaruit kon pomp met Evkom-krag.
As vyfjarige is ek na Laerskool Witrivier om saam met matrieks in die koshuis te bly. Van bed opmaak, kaste regpak en skoenveters vasmaak, het ek niks geweet nie, en het ons maar swaargekry onder die groot manne wat min empatie met ons onhandigheid gehad het.
Drie jaar later is daar genadiglik ‘n tweemanskooltjie geopen waar Protea Hotel te Burgershall vandag is. Die onderwysers moes natuurlik van gr. 1 tot std. 5 onderrig, wat sekerlik nie ‘n maklike taak was nie. Die skool het later afgeskuif Hazyview toe na groot getoutrekkery oor die nuwe ligging. Speel en daaglikse visvang was lekkerder as leer vir my, en dit het ook maar ‘n uitwerking gelaat, veral op my leer van die Engelse taal!
Dit was ‘n tyd toe meestal bilharzia gekry het. Dit het my ook oorgekom toe ek in std. 6 in Hoërskool Rob Ferreira aangekom het, vanweë al die rivier- en kanaalswemmery. Daardie tyd moes jy ses inspuitings kry. Pa stuur my dokter toe en dié vra my wat is my pa se “initials”. Die woord was natuurlik erg vreemd, maar ek wou darem nie my onkunde met die taal openbaar nie. Dit was te midde van die verkiesing en ek neem aan hy is nuuskierig om te weet aan watter kant van die draad (tóé NP of VP) my pa gestaan het. Ek antwoord toe NAT, wat die nasionaliste genoem was.
Die manne van die Verenigde Party het as Sappe bekendgestaan. Die dokter vra toe weer: “NAT?” Ek sê ja, en daar kry my pa, wie se voorletters GH was, toe ‘n rekening vir mnr. NAT Snyman! Hy vra my toe of die dokter my nie gevra wat sy voorletters is nie. “Nee,” sê ek, “hy wou net weet aan watter party pa behoort.” “Wat sê jy toe?” “NAT, Pa!”
Ek was egter ook nie die enigste slagoffer van die onbekende Engelse taal nie. Ons het ‘n huishulp gehad met die naam James. Hy en my ma kon net deur middel van Fanagalo, ‘n mengsel van Afrikaans, Engels en Swazi, met mekaar praat.
ALSO READ: Two men shot dead and one injured in Mbombela on Sunday
Almal op die plase het daardie tyd hoenderhokke gehad, want hier was nie slaghuise nie. My ma bestel toe 50 kuikens wat met die trein by Witrivier-stasie afgelewer sou word. By die huis aangekom, en haastig weer elders op pad, gee sy vir James opdrag wat om met die kuikens te maak. Later, toe hy al getjaila het, kom ek die kombuis in. Daai tyd het almal mos maar koolstowe gehad.
Daar in die kartonboks lê net dooie, papnat kuikens, sommiges onder in die onderste oond ingeprop. Enkeles lê en piep en bibber van die koue. Erg geskok oor wat ek hier gade slaan, hardloop ek na James se kaia om te verneem wat hy met die kuikentjies aangevang het.
Doodonskuldig en getrou om soos gewoonlik my ma se instruksies op die letter van die woord uit te voer, antwoord hy: “Madam shela mina moet washa lo chicken.” Vir hom, natuurlik, het “watch” en “wash” dieselfde betekenis gehad! Ma was natuurlik in ‘n toestand van skok toe sy die petalje en slagveld in haar kombuis ontdek.
