Local newsNews

Fred Cronjé: ‘n vol Laeveldse lewe

Fred Cronjé was 'n boer, 'n bewaringskampvegter, 'n bouer in konstruksie en ontwikkeling, 'n sakeman, maar bowenal 'n kind van die Here.

Godvresend tot die einde het hy sy vyf jaar lange siekbed dapper verduur en op 27 Julie sy ewige rus verdien.

Cronjé se vrou Sharon (hulle is in 1986 getroud) deel meer oor sy invloedryke en landswye lewe.  Hy is gebore op Coligny in Noordwes, en het talle jare in dié provinsie geboer. Sy plaas op Bray het hom lank tussen die Laeveld en Noordwes laat reis.

In 1982 op ouderdon 50 het Fred en sy destydse vrou, Marie, hulle in die Laeveld op Alkmaar kom vestig. Hier het hy vir 25 jaar as ouderling in die NG Kerk Alkmaar gedien.

As boer het hy natuurlik ook by die Nelspruit Boere-vereniging aangesluit.

In sy tyd in die Laeveld het hy gedien op al wat ‘n komitee en vereniging is, te doen met beeste, sitrus, natuurlike hulpbronne, en meer.

Ook noemenswaardig in sy Laeveldse bedrywighede is die ontwikkeling van Kwanyoni Lodge op Alkmaar, waarmee hy die toerismebedryf betree het. Hy en Sharon het die lodge vir 10 jaar bedryf.

Gedurende die tagtigerjare was Fred ook betrokke by die bestryding van indringerplante, waar duisende hektaar lantana, sering en paraffienbos in die suidelike Laeveld onder beheer gebring is. Deel van hierdie bestryding het ook die waterhiasint op damme in die Nasionale Krugerwildtuin betrek.

Volgens Sharon was Fred betrokke by die Streeksdiensteraad en het hy vir ‘n aantal jare as voorsitter gedien. Hier sê sy was hy instrumenteel tot die uitreiking van subsidies aan boere vir hulle bydrae tot die uitwissing van hierdie indringerplante op hul plase.

In 1997 verower hy die gesogte Conserva Lifetime Achievement Award uitgereik deur die Departement van Omgewingsake en Toerisme vir sy bewaringsmetodes van natuurlike hulpbronne in Molopo en die Laeveld.
Ook in 1999 het hy die Green Trust Award van die Departement van Waterwese en Bosbou vir sy Laeveldse hulpbronbewaringsaksies ontvang.

ALSO READ: Provinsiale kleure vir ruiters

In 2006 verhuis hy finaal van Bray tot die Laeveld, waar hy eiendomsontwikkeling betree het.

“Fred was ‘n man van wysheid as dit by finansiële sake gekom het, en sy agtergrond spreek van sy sukses daarmee,” het Sharon gesê.

Wat karaktereienskappe betref, het sy die volgende uitgelig: “Sy houding was een van aanhouer wen en hy was kwaai en taai, maar hy het ‘n baie klein hartjie vir mense in nood gehad.

“Maar vir dié wat vir Fred intiem ken, is die bogenoemde nie vir hom belangerik nie. Hy sou liewer geken wou word as ‘n kind van die Here wat hom vir 89 jaar lank tot só ver gedra het. Die dokters het destyds vir sy ouers gesê hy sal nooit ouer as 12 word nie.

“Hierdie genade wat hy van ons Skepper ontvang het, het hy ten volle gebruik, en sy lewensleuse was: ‘God is groot, al die lof kom Hom toe,’ uit Psalm 48 v. 1.”

Weens die huidige Covid-19-regulasies het sy familie verkies om ‘n virtuele gedenkdiens te hou. Die video kan op die NG Kerk Alkmaar se YouTube-kanaal gevind word onder die titel “Gedenkdiens – Fred Cronjé”.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button