NHS Skouspel 2021 verdryf die Covid-blues
Skouspel 2021! Hoërskool Nelspruit het Saterdagaand hul revue "op die planke gebring" en inlyn met die "nuwe normaal" van 'n Covid-omgewing, dit virtueel aan hul gehoor gestroom.
MBOMBELA – Die Nellies het getrou aan hul leuse, “Met ‘n plan vir môre”, nie teruggedeins om binne Covid-inperkings en die ongewone, aangepaste skooltermyne, ‘n revue te hou nie.

Saterdagaand het die skoolhoof, Johan Hattingh, aan ‘n klein groepie eregaste gesê dit was geen maklike taak om dit deur te voer nie, omdat alles binne Covid-regulasies gedoen moes word.
“Dit is moeilike tyd, maar ons kan nie ophou planne maak nie. Dis ‘n era wat met hernieude denke aangepak moet word en ons moes uit die boks dink om die projek van stapel te stuur. Met die geloof en visie van die bestuursraad en ons borge, kon Skouspel 2021 die lig sien.”
LEES OOK: Heimwee en nostalgie vir skool se eeufeesviering

“Is this the real life? Is this just fantasy? Caught in a landslide, no escape from reality.” Daar sou nimmer ‘n méér gepaste liriek as dié Queen-treffer, “Bohemiam Rhapsody”, gevind kon word om die revue af te skop. Andrich Eloff het met die intrapslag reeds gewys dat hy ‘n waardevolle bydrae as solis sou lewer toe hy met “Queen Mash-up” afgeskop het.

Die Nellies het nie ‘n tekort aan hartebrekers wat nog boonop ook mooi kan sing nie. Dít het Neelsie van Dyk, Berno Venter en Dewald Vorster vinnig bewys met hul items, “I don’t believe in if anymore”, “Bring die hoop weer terug” en “Greased Lightning”. Deurgaans het veral Berno gewys dat hy soomloos tussen sy skoolklere en ‘n musiekverhoog kon beweeg. Die Sevensters, Hanjo en Juvan, het ewe kragtige vertonings gelewer.

Dit was ligte, kameras en aksie soos die Nellies tussendeur die onderskeie items gedans en gesing het. Die skoner geslag het net so beïndruk, en Zimri Leuvennink het die voete laat jeuk met die countrytreffer “Diane”, asook “We found love”. Die klein lyfie en groot stem van Chanell Koch het vir hoendervleis gesorg met “Zombie”. “Shallow” se harmonieë en vars verwerking was foutloos uitgevoer deur Hanjo Sevenster en Ester de Kock.

Net soos die laaste 18 maande van Covid-rondskommeling, was die aand nie perfek nie en tegniese probleme het die uitsending vir ‘n paar minute gekniehalter. “Nellie-guts” was egter die wenner van die aand, met luidkeelse applous wat in elke Nellie-huis se sitkamer opgeklink het.


