Local newsNews

Bobbejaantjie stompstert ná skok

'n Onlangse, vlugtige kragonderbreking in Kaapsehoop was dié keer nie aan Eskom toeskryfbaar nie.

Volgens ‘n inwoner van Kaapsehoop, Alita Steenkamp, was ‘n klein bobbejaantjie die oorsaak van die kragonderbreking.

“Die jonge juffer het teen die kragdrade opgeklim en by die transformator gepeuter,” sê sy.  Nie lank na boodskappe op die dorp se WhatsApp-groep oor die kragonderbreking deurgekom het nie, het iemand ‘n foto van ‘n lewelose bobbejaantjie daarop gestuur. “My hart wou breek, want dit het gelyk asof sy dood is. In die verlede het ‘n hadida en ‘n blouaap hulself al op dié wyse die ewigheid ingestuur.”

Een van die inwoners wou dadelik weet waar die diertjie was en het haar summier gaan haal.

Voor dit nog beter met die bobbejaantjie gegaan het, het sy maar taamlik droewig gelyk. > Foto’s: Verskaf

Sy het toe, verbasend genoeg, nog gelewe. Die besorgde inwoner het alle nodige hulp ingespan. “Die eerste plek waarheen sy geneem is, was West Acres se dierekliniek. Vandaar is sy deur ‘n vrywilliger van Chimp Eden na ‘n veilige plek geneem waar sy behandel is,” sê Steenkamp.

Aanvanklik het die kanse op oorlewing vir die bobbejaantjie nie goed gelyk nie; bloedtoetse het gedui op inwendige bloeding wat dalk sou beteken dat hulle haar sou moes uitsit.

ALSO READ:  Burn victim dies from injuries

“Teen week drie het hulle besluit om haar stertjie eerder op 7 cm te amputeer, want sy het bly karring aan die wond. So in die stilligheid was daar egter beterskap, en op 16 Augustus het die aanvanklike redder-inwoner die goeie nuus met die dorp gedeel: sy is weer hier by Kaapsehoop in ‘n trop vrygelaat en dit lyk asof die trop, moontlik haar eie, haar aanvaar het.

‘n Dag voor haar vrylating op 16 Augustus. > Foto: Verskaf

“Die naam wat haar engele vir haar gegee het, Elektra, hou natuurlik verband met haar ongeluk, maar dit is ook die naam van ‘n ster wat deel vorm van die Sewe Susters-konstellasie.”

Steenkamp het gesê sy is dankbaar vir inwoners soos dié een en al die ander rolspelers wat inspring in sulke oomblikke.

“’n Dag later het Eskom ‘n nuwe transformator kom installeer, en het almal in Kaapsehoop weer krag gehad. Nooit ‘n vervelige oomblik op dié berg nie!

“Dalk loop jy haar eendag hier op die berg raak. Klein Elektra, die bobbejaantjie met die halwe stert.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button