Vonkelwyn en lirieke spat by intieme Spoegwolf-vertoning
Dit was vonkelwyn oor die kop uitgooi en jongelinge op die verhoog tydens Spoegwolf se vertoning by Kavinga Guest House hierdie naweek.
Belinda Erasmus, die organiseerder van dié vertoning, “Lente in die Laeveld”, sê dit was ongelooflik. Spoegwolf het ook hul nuutste liedjie, “Silwer”, vir die gehoor gesing.

“Spoegwolf het eintlik vir my 30ste verjaardag saam met ‘n handjievol vriende die Saterdagaand opgedaag, en toe het ons ‘n Sondag-vertoning vir die publiek oopgemaak om hulle rit Laeveld toe die moeite werd te maak.

“Met al die feeste en vertonings wat gekanselleer is, het ons mekaar in die afgelope twee jaar baie tegemoetgekom en gehelp, daarom het hulle ingestem om gratis Saterdagaand op te tree.”

Danie du Toit van Spoegwolf het gesê hulle het die R500 wat gaste spandeer het aan hul kaartjies werklik waardeer, aangesien dit omtrent die prys van ‘n Levi’s-denim is.

“Hy sê toe vir almal dat alhoewel ‘n mens ‘n Levi’s ‘n lang tyd kan dra, sal hulle die naweek se vertonings vir ‘n leeftyd in hulle harte dra.”

Die groep het soos ouder-gewoonte tussen die mense in die gehoor gesit en wag voor die vertoning begin het.

Erasmus sê George Meyer, ‘n seun in dié gehoor, het verjaar en Du Toit het hom op die verhoog geroep, ‘n kitaar in die hand gestop en gesê hy moet saam sing.

ALSO READ: Economist to give talk on state of South African economy at Church Unlimited

Nog ‘n jongeling, JV Breytenbach, het ook verjaar, en dié is toe ook op die verhoog geroep en ‘n kitaar gegee.

Erasmus vertel dat Du Toit op ‘n stadium so opgewonde geraak het dat hy in die gehoor gaan staan het en ‘n bottel Annabelle-vonkelwyn oor sy kop uitgegooi het.





