Elvis Blue vier lente in die Laeveld
Elvis Blue het tydens die sesde en laaste van die huidige reeks Standard Bank Innibos In jou huis-konserte tuis by die Kroon-gesin van sy ou gunstelinge en nuutste liedjies met die gehoor gedeel.
Hierdie akoestiese konsert is moontlik gemaak met die samewerking van kykNET en Radio Laeveld, wat ook die konsert lewendig uitgesaai het. Die Krone het terselfdertyd die geleentheid gebruik om die lewe, die lente en hul vriendskappe te vier.

Elvis Blue, wat in 2010 die wenner van Idols was, is geen onbekende vir Innibossers nie. As gevolg van die voortslepende pandemie was optredes oor die afgelope twee jaar beperk, en daarom is geleenthede soos hierdie baie spesiaal, het hy vertel. ‘n Mens kom ook agter wat regtig belangrik in die lewe is, vertel hy.
Hy het die afgelope twee jaar baie meer tyd met sy gesin kon spandeer, en daarvoor is hy dankbaar. Hy het onlangs sy nuwe album, Meer as Genoeg, uitgereik, en het sy inspirasie daarvoor met die gehoor gedeel.
ALSO READ: Thousands of dead fish found in Barberton farm dams and tributary to river
“Daar het ‘n paar dinge gedurende hierdie tydperk binne my gebeur wat ek in liedjies verwoord het. Wanneer jy iets verloor waarvoor jy lief is, raak jy bewus van ander goed wat jy steeds het. Dit is waaroor ek geskryf het terwyl ek gewonder het wat is genoeg.”

Die temas van sy liedjies is die liefde, deursettingsvermoë en moeilike tye.
Die soel Laeveldse lenteweer, die pragtige venue en heerlike kos het bygedra om die aand ‘n groot sukses te maak.
Die bydraes wat gaste gemaak het word aan Pro Gratia Skool vir kinders met spesiale behoeftes asook die Rhino Conservation Trust geskenk.
Elvis Blue is ook op Saterdag, 25 September, te sien by die Gaan Bos inniMall-fees by i’langa Mall. Besoek i’langa of Innibos se webtuiste vir meer inligting.
