Wildtuinhiëna val soldaat aan
'n 54-jarige soldaat wat in die Nasionale Krugerwildtuin ontplooi is, sterk in die Mediclinic Nelspruit aan nadat hy Sondag deur 'n hiëna gebyt is.

Groot geheimsinnigheid omhul die voorval, aangesien die soldaat glo ‘n lid van militêre inligting is wat op ‘n projek in die wildtuin ontplooi is. Sy persoonlike inligting mag dus nie bekendgemaak word nie.
Die soldaat is by die Sandrivier-basis naby Skukuza gestasioneer.
Hy en van sy makkers was glo Sondag op patrollie toe hulle glo op ‘n hiëna wat in ‘n strik beland het, afgekom het.
Die soldaat het die dier glo uit die strik bevry. Oomblikke nadat die dier bevry is, het hy omgespring en die soldaat aan die hande en arm gebyt.
Behalwe om te bevestig dat hulle bewus is van die voorval, wil die wildtuin en die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) nie kommentaar oor die aangeleentheid lewer nie.
ALSO READ: Thousands of dead fish found in Barberton farm dams and tributary to river
Ike Phaahla, die woordvoerder van SANParke, het net bevestig dat hulle die voorval ondersoek het en dat die verslag aan die SANW oorhandig is. Alle ander vrae het hy na die weermag verwys.
Robyn Baard, die woordvoerder van Mediclinic Nelspruit, het bevestig dat die pasiënt in ‘n stabiele toestand is.
Ook sy het alle navrae na SANW verwys.
