Jukskei baan sy weg in Marloth met nuwe fasiliteite
Die opening van die nuwe jukskeibane in die Henk van Rooyen Park is gevier met 'n kompetisie op Saterdag 2 Oktober.

‘n Bestuurspan vir Marlothpark se jukskei was ook by die prysuitdeling gekies.


“Ons klomp wat jukskei speel het in Marlothpark afgetree en was opsoek na iets wat ons kon besig hou oor die
naweke, want sport word nie sommer hier aangebied nie, en toe besluit ons om ‘n geleentheid te skep vir jukskei,” het Corrie du Rand, die ondervoorsitter en een van die organiseerders van die jukskei-opening, gesê.

Die Suid-Afrikaanse jukskeispan het die roeping gehoor en drie bane by die park help bou.
Die spelers het Maandae, Woensdae en Vrydae na die bane klaar gebou was, geoefen met die doel om hul spel te verbeter.
LEES OOK: Swierige matriekafskeid vir Komatipoort Akademie
Losaan Meiring het die opening georganiseer, en 46 mense het aan die kompetisie, wat om 08:00 afgeskop het, deelgeneem. Tussen 12:00 en 13:00 was daar middagete en ná 15:00 was die prysuitdeling aangekondig.

Die kampioen van die dag was Alicia Rautenbach. In tweede plek was Edgar Klaasen en die derde plek is tussen Johan Oosthuizen en Renier Bytel gedeel. Die persoon toegeken as die dag se beste gees was Noeleen du Toit, en Bella Nelson is aangekondig as die persoon met die beste sportmanskap en beste poging tot die spel.

Die bestuurspan gekies vir Marlothpark se jukskeigroep is Kas Joubert as voorsitter, Corrie du Rand as ondervoorsitter, Charmain van Loggenberg as die tesourier en sekretaresse, en Losaan Meiring as organiseerder.
