Matriekleerders word vereer
Die prysuitdeling vir Hoërskool Lydenburg (LHS) se matriekleerders is op Donderdag 21 Oktober as 'n gala-geleentheid deur die skool aangebied.
Tiaan Joubert is 2021 se duxleerder met ‘n gemiddeld van 88,4% en sewe onderskeidings.

Die top 10 matriekleerders vir 2021 is Tiaan, Bernice van Wyk, Fanie Erasmus, Megan Bam, Callum Bain, Hugo Hershensohn, Ayesha Cassim, Deanu van Rooyen, Shané Steyn en Clarissa Fourie.
Die veelsydigste matriekdogter vir 2021 is Zanri Hanekom. Sy was ook onderhoofdogter van kultuur en het op buitemuurse en akademiese gebied presteer. Sy het tydens haar hoërskoolloopbaanere- en prestasiekleure in sport en
akademie ontvang.

JL Welgemoed het ‘n toekenning vir sy 100% skoolbywoning die afgelope
vyf jaar ontvang.

Lees ook: Nóg 150 emmers vir behoeftiges is die doel
Tiaan is ook die veelsydigste matriekseun van 2021. Behalwe vir sy pligte as onderhoofseun van kultuur, het hy vir die eerste krieket- en gholfspanne gespeel. Hy was ook vanaf gr. 8 tot 10 die duxleerder en het vir die ATKV-Debat- en Redenaarskompetisies ere- en prestasiekleure ontvang.

Die Thys Cronjé-trofee vir uitnemendheid is aan Bernice van Wyk oorhandig. Cronjé was LHS se skoolhoof vanaf 1983 tot 2010.
Bernice was 2021 se hoofdogter en die dogters eerste hokkiespan se kaptein, en het met verskeie sportsoorte en op akademiese gebied uitgeblink.
Monique Koekemoer het die trofee vir dienslewering ontvang. Die Landsdiens se Springboktoekenning is aan haar oorhandig. Sy het ook prestasie- en erekleure verwerf vir verskeie buitemuurse aktiwiteite en sportsoorte.

Callum het die trofee vir toegewydheid ontvang. Hy was die onderhoofseun vir akademie in 2021, die seuns eerste hokkiespan se kaptein en het op provinsiale vlak in debat presteer.
Michael van der Merwe, die skoolhoof, het die leerders met hul puik prestasies gelukgewens en hul net die beste vir hul toekoms toegewens. Hulle is ook bedank vir hul toegewydheid en lojaliteit aan LHS.
