Cobie is Afrika se driekampkampioen
Daar is net nie keer aan die driekampkampioen, Cobie Steinberg (70), nie.

Marathons en ultramarathons vir hierdie superatleet van Lydenburg is al tweede natuur. Sy het weer eens op Saterdag 12 Februarie bewys dat sy die beste in haar ouderdomsgroep, 70-75 jaar, by die 2022 SA Driekampkampioenskappe te Maselspoort, Bloemfontein, was.
By hierdie byeenkoms is sy as die Afrika-kampioen aangewys. Sy het ook in 2021 hierdie titel gewen as verteenwoordiger van die Westelike Provinsie. Maar om in 2021 weens die wêreldwye pandemie na Bermuda te reis, was tegnies onmoontlik.

Vanjaar gaan sy en haar man, dr. Jan Steinberg, wel alles in hul vermoë doen om aan die wêreldkampioenskappe in Montreal, Kanada, in Junie deel te neem. Cobie is welbekend as iemand wat agter die skerms werk en glad nie haar prestasies uitbasuin nie.
In 2021 het sy die driekamp in ‘n uur en 46 minute voltooi. Dit verg ‘n spesiale soort uithouvermoë. Vanjaar het sy dit in een uur en 50 minute voltooi.
“Ja, ek is die Afrika-kampioen in my ouderdomsgroep. Maar streng gesproke was ek die enigste vrou in die afdeling. Tog is ek trots op myself. Dit behels die naelloopformaat, wat uit ‘n 750 m-swem, 20 km-fietsry en 5 km-draf bestaan. Alles direk na mekaar,” het Cobie gesê.
Lees ook: Lydenburg-hoof en -adjunkhoofde gearresteer om gees te vang vir interhoër
“Dis eintlik pret, want my motivering is net om die wêreld te sien en my dankbaarheid uit te leef omdat ek genade van Bo het om dit te kan doen. Ek vat dit dag vir dag. My oefenprogram is eintlik my lewenswyse. Al lyk dit seker vir mense of ek net Spar toe ry op my fiets om te gaan melk koop. Ek begin elke oggend vroeg oefen, sodra die hane kraai. Ek dink Pilates is die gom wat my aanmekaar hou. Ek waardeer elke beweging en elke menslike ingenieurswerk in my liggaam. Ek sal dit nooit as vanselfsprekend aanvaar nie.”
Cobie het ook in 2018 in Australië aan die Wêrelddriekampkampioenskappe deelgeneem, en daar 23ste uit die 36 deelnemers geëindig.
