Van Krugersdorp tot die Laeveld, 72 jaar tesame
"Hulle is vir ons almal dié wonderlikste voorbeeld op alle gebiede," sê dié paartjie se kinders op hul 72ste huweliksherdenking.
Hannes (94) en Babsie (91) Smith is sedert 1997 in Mbombela woonagtig, en is vandag (4 Maart) reeds 72 jaar lank getroud. Voorheen het hulle in KwaZulu-Natal en in die Wes-Kaap gewoon.
Hulle is op 4 Maart 1950 in Krugersdorp getroud, waar hulle vir baie jare gewoon het. Drie dogters, Loma Lessing, Riana Gous en Annette Curgenven, en een seun, Ernie, is uit die huwelik gebore. Ernie is egter tragies op vyfjarige ouderdom in ‘n motorongeluk oorlede.
LEES OOK: Hoërskool Lydenburg se hoof neem sy eerste jaar in oënskou
Hulle het vele kleinkinders en agterkleinkinders wat aan hulle lippe hang wanneer daar stories vertel word. Hannes is ‘n afgetrede onderwyser en dosent, en Babsie ‘n tuisteskepper.
Dié twee deel ‘n wye reeks belangstellings soos kamp, kosmaak, skilder, reis, lees en vele meer. Hannes se groot liefde is die see en visvang, terwyl Babsie die mooiste naaldwerk gedoen het.
Hulle dogters wil hulle graag hartlik gelukwens met hierdie mylpaal. “Hulle is vir ons almal dié wonderlikste voorbeeld op alle gebiede.”
