Twee vroue se hande staan vir niks verkeerd
Dié twee vriendinne het self besluit om Van Standenweg reg te maak, en dis blykbaar al 'n paar jaar dat hulle so ywerig is.
Tracey Nel sê trots dat haar vriendin, Robyn Vorster, dié betrokke deel van Van Stadenweg al sedert 2012 opknap en in stand hou.
Op Vrydag 5 Maart het Steelburger/ Lydenburg Nuus op die twee vroue afgekom waar hulle in die bloedige son gewerk het. Daar was nie eers meer skoon hande om die sweet weg te vee nie. Hul klere en gesigte was alles vol sement. Vorster en Nel het hul oudste klere aangetrek self die sement gemeng, en die oppervlak netjies met ’n waterpas afgewerk.

“Ons weet die stadsraad werk nou aan die hoofroete deur die middel van Lydenburg, maar die systrate word vergeet. Hierdie pad word elke dag gebruik aangesien die hoofroetes na The Heads in Voortrekkerstraat weens konstruksie gesluit is. Al daardie verkeer van Voortrekkerstraat word deur die woonbuurt herlei. Dit plaas nog meer impak op hierdie systrate,” het Vorster gesê.
Dit word deesdae ’n algemene gesig in Lydenburg om inwoners te sien moue oprol en kleiner opknappingswerke, soos gras sny langs die pad en vullisverwydering, self te verrig.

