CVO-skool herdenk die Slag van Majuba
Leerders van die CVO Lydenburg het hul geskiedenis herdenk tydens 'n uitstappie na Majuba, buite Volksrust.
’n Besoek aan Majuba en Bloedrivier is ’n naweek wat die leerders van die Beweging vir Christelik Volkseie Onderwys (BCVO) Lydenburg nie gou sal vergeet nie. Die gr. 6- en 7-leerders het reeds op Donderdag 24 Februarie aan die voet van die Majuba-koppie begin kampeer en die terrein verken.
Die Slag van Majuba het net buite Volksrust plaasgevind. Dit was die laaste van die vier militêre botsings tussen Brittanje en die Suid-Afrikaanse soldate gedurende die Eerste Vryheidsoorlog van Desember 1880 tot Maart 1881.

Lees ook: President Kruger en die akkerboom
Die Majuba-naweek is ’n unieke geleentheid om jaarliks die laaste veldslag saam met families van gesneuweldes en geskiedenisliefhebbers by te woon.
Op Saterdag 26 Februarie het ’n skyngeveg onder mans wat hulself as SA soldate of Britte voorgedoen het, om die Slag van Majuba uit te beeld, gehou. Tydens die herdenking van die Slag van Majuba (27 Februarie 1881) het die skool ’n kerkdiens saam met die ander kampeerders bygewoon. Die CVO-leerders het onder meer ’n kruis op die monument gelê, ’n fakkelloop in die nag gehad en heerlik gekamp.
