Doebai se loopplanke roep 16-jarige
Dis nie net die wildtuin en visvang wat Corné Dietrichsen se passie is nie, maar ook haar modelwerk.

Oor ‘n paar maande gaan Corné Dietrichsen (16) die glansryke Doebai met al sy internasionale sjarme as die Miss World International (MWI) se Miss Teen South Africa aandurf.
Sy het van dogtertjiedae gedroom om ’n model te wees maar is nou eers ‘n jaar-en-’n-half in die ‘bedryf’.
Sy is gekies om Suid-Afrika in die MWI se galakroningsweek te verteenwoordig na die kroning op 31 Julie 2021 in Middelburg. Corné is ‘n gr. 11-leerder en doen tuisonderrig. Ronell Joubert, die bekende modelafrigter van Designer Models, het haar onder haar vlerk geneem.

Lees ook: Hoërskool Lydenburg se hoof neem sy eerste jaar in oënskou
Al weet sy hoe om die koppe op die loopplank te laat draai, is sy ewe tuis in haar karateklere of karate-“gi”. Boonop is een van haar gunsteling plaaslike bestemmings die wildtuin. “Ek sal vir weke net in Marlothpark kan bly om al die diere en natuur te geniet. Ek hou ook van visvang saam met my pa. Familietyd is vir my baie belangrik. Daar is niks beter as vars lug nie,” het Corné gesê.

In haar vrye tyd is sy ook betrokke by liefdadigheidswerk en hou daarvan om drukkies en glimlagte uit te deel. “Baie dankie aan my ouers, tannie Ronell en ook familie wat my tot hier ondersteun het. Ons sien almal baie uit na die ervaring om na Doebai te reis en daar deel te neem.”

