Drie kinders stabiel na motorongeluk tussen Barberton en eManzana
Die ongeluk het ‘n boetie en sussie se ma en stiefpa se lewens geëis.
Bruce Macauley, ‘n familievriend van die gesin wat Vrydagoggend (18 Maart) in ‘n ongeluk tussen Barberton en eManzana (voorheen Badplaas) was, sê die drie kinders wat in die voertuig was, se toestand is stabiel.
Lizelle en Jaco van der Merwe het hul lewens in dié ongeluk verloor. Saam met hulle was hul kinders, Rochelle (11) en Markus (19) Bruyns, en ‘n vriend van Markus wat ook sy ouderdom is.
Die jongklomp is tans in Kiaat Hospitaal waar hulle van hul beserings herstel.
LEES OOK: Ongeluk eis twee volwassenes, kinders in Kiaat Hospitaal
Macaulay het Vrydag laat weet dat Rochelle haar linkerheup gebreek het en haar pelvis het ook seergekry. Daar is ‘n skeur in beide haar lewer en haar milt en sy het ook ‘n kopwond. Sy het Saterdag ‘n operasie vir die kopwond ondergaan.
Markus het inwendige beserings en ook ‘n gekraakte pelvis. Sy vriend het ook inwendige beserings. “Hy het sy heupe en sy borsbeen gebreek.”
Macaulay sê dit gaan goed onder die omstandighede, en het laat weet dat Rochelle vandag met fisioterapie begin het.
“Sodra die fisio gelukkig is, sal hulle besluit oor wanneer sy ontslaan kan word. Dis as die ander dokters dit goedkeur en geen ander komplikasies kry met haar ander beserings nie. Daar is geen ander breke nie, prys die Here.” sê hy.
Hy sê die seuns gaan ongelukkig nog minstens vyf weke in traksie wees. Hulle sal een week hiervan in Kiaat spandeer en dan na ‘n fasiliteit soos M-Care Nelspruit oorgeplaas word. “Die seuns het beter geslaap, al het die vriend baie pyn deur die aand ervaar.”
Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie.
