Hoërskool Rob Ferreira in blou getooi teen sy boelies
Dié skool is in blou getooi as deel van 'n groot antiboelieveldtog wat onlangs, in samewerking met Laerskool Witrivier, geloods is.
Hoërskool Rob Ferreira sê daar is geen plek vir boelies op sy skoolgronde nie. Juis daarom het die skool, in samewerking met Laerskool Witrivier, onlangs ‘n groot antiboelieveldtog geloods.
Dit het vir die skool duidelik geword dat leerders ná die pandemie, sosiaal en emosioneel, nie goed vaar nie. “Dit is skrikwekkend hoe baie leerders hul lewens neem oor hul geboelie word. Wat dit erger maak is dat hul geboelie word oor hul voorkoms,” het die skool gesê.
“Dit is belangrik dat ons leerders die kenmerke en gevolge van boelie verstaan.” Die veldtog het op 28 Februarie afgeskop, met ‘n spreker van Be That Guy/Girl, Willem Engelbrecht, die befaamde sanger, Jo Black, se broer.
LEES OOK: Gewilde sanger verfilm musiekvideo by Mustangs
Wat opvallend was toe hy die leerders die oggend toespreek, was sy benadering. Hy het gepraat uit ‘n boelie se oogpunt, omdat hy al self ‘n boelie was, asook uit die slagoffer se oogpunt, omrede sy broer op skool geboelie is. Só het hy sy lewe omgedraai om leerders in beide opsigte te help.

Die aand het hy met die hoër- en laerskoolouers gepraat oor wat boelie presies is, hoe dit ontstaan en hoe hulle hul kinders kan help. Die skool se bome is ook in blou (die veldtog se kleur) lappe gedrapeer en met blare met positiewe boodskappe deur leerders beplak, en selfs die skool se gelukbringerolifant is blou geverf.
Leerders kon ook inskryf in verskeie kompetisies waaronder gedigte en plakkate ingedien is. Die beste vyf Afrikaanse en Engelse gedigte is onderskeidelik opgeneem en op sosiale media versprei. Die skool se koor, soliste, dansers asook ‘n blitsskare (flash mob) is onder meer opgeneem.

Dit was deel van ‘n reeks aktiwiteite wat tussen 1 en 14 Maart gevolg het om bewusmaking te skep van die gevolge van boelie. Die kompetisiewenners is aangekondig. ‘n Digbundel sal uitgegee word waarin al die gedigte saamgevat is.
“Die veldtog se hoofdoel is bewusmaking. Meer kontakgeleenthede met ouers en leerders oor wat boelie is, en die hantering daarvan, sal eersdaags volg,” het die hoof van Rob Ferreira, Dawie Oberholzer, gesê.
“Ek kon nie verder toekyk hoe leerders mekaar boelie nie. Ek sê altyd, ‘n mens kan ‘n pleister op ‘n seer plak, maar daar is geen pleister wat op die hart geplak kan word nie,” het Loanette Caknis, die skool se bemarkingsbeampte, gesê. Sy het die “engele” wat gehelp het om die veldtog ‘n sukses te maak, hartlik bedank.
LEES OOK: Ondersteun Rusoord Lydenburg met sy witolifantverkope
