Die Step Foundation is geanker in barmhartigheid en gemeenskapsorg
Die Step Foundation in Lydenburg het 'n reputasie wat geanker is in omgee en gemeenskapsorg, dit is weer met hul ope-dag bewys .
Volgens Hester van Zijl, direkteur van die Step Foundation, verskaf hulle aan sowat 220 volwassenes en 48 kinders per dag kos. Dit is meestal mense wat nie meer ‘n heenkome het nie en op straat bly, en bejaardes of vroue en kinders wat uit moeilike omstandighede gered moet word.
Die sentrum in Viljoenstraat het op Saterdag 26 Maart ‘n opedag gehad om die publiek ook van sy projekte bewus te maak. Gaste kon self sien waarheen skenkings gaan en hoeveel werk die vrywilligers by Step insit.
Lees ook: Oud-Lydenburger teken nuwe rekord aan en word as pampoenkoning gekroon

“Met Step wil ons ‘n plek vir mense skep dat hulle kan voel hulle behoort iewers. Ons help mense wat in nood is om oplossings vir die toekoms te skep. Ons help hulle om hul lewenstandaarde te verbeter en natuurlik hulself te verbeter. Step is ‘n organisasie sonder winsoogmerk en ‘n Artikel 18A-sertifikaat kan uitgereik word ná skenkings,” het Van Zijl gesê.
Liefdadigheidswerk wat by Step plaasvind is onder meer die kook van daaglikse maaltye, die uitdeel van kruidenierswarepakkies, vars vrugte en groente, stortgeriewe, hulp om behoeftiges se CV’s te wysig en weer vir identiteitsdokumente aansoek te doen, die bestuur van ‘n klerestoor, berading en sorg van bejaardes.

“Ons ondersteun tans vier gesinne wat tydelike pleegsorg bied vir kinders wat huise van veiligheid nodig het. Ongelukkig word sommige kinders nie in wenslike omstandighede grootgemaak nie. Daarom is dit vir ons belangrik om nou saam te werk met plaaslike maatskaplike werkers. Ons vat hande met maatskaplike rade, die polisie en die Jethro Group. Die Jethro Group staan ons by in uiterste gevalle waar vrouens en kinders hulp nodig het om uit gevaarlike situasies te kom. Dié organisasie is vlak 1 B-BBEE geregistreer, indien ‘n firma daarby sou baat. Indien enigiemand sou belangstel om ‘n maandelikse finansiële bydrae te maak, kan hulle van ons debietordermandaat gebruik maak en ‘n aftrekorder teken ten bate van die Step Foundation,” het Van Zijl gesê.
Vir meer inligting, stuur ‘n e-pos aan hestervanzijl@live.com of besoek die sentrum by Viljoenstraat 64, Lydenburg.
