Sjokolade-ganache ‘vat die koek’
Dié gr. 12-leerder van Hoërskool Lydenburg is as die Nasionale Gasvryheidstudieswenner van die Nasionale Toerisme Loopbaan- ekspo gekroon.

Dit moet sekerlik die smaaklikste kompetisie wees om te beoordeel. Nadat Elizabeth du Preez (17) haar prentjiemooi swart sjokoladekoek gevul met kruisementsjokolade-ganache aan die beoordelaars voorgesit het, was hulle dit dadelik eens dat haar inskrywing die wenner is. Dié gr. 12-leerder van Hoërskool Lydenburg is as die Nasionale Gasvryheidstudieswenner van die Nasionale Toerisme Loopbaan- ekspo gekroon.
Lees ook: Die Step Foundation is geanker in barmhartigheid en gemeenskapsorg
Die landswye kompetisie wat deur die Department van Toerisme vir skole aangebied is, is die naweek van 25 tot 27 Maart by die Nasrec- konferensiesentrum in Johannesburg gehou.

Mpumalanga het almal se hoogste verwagtinge oortref en is as die algehele wenners gekroon. Troebelene Diedericks, die vakhoof van dienste (wat toerisme, verbruikerstudie en gasvryheidstudies insluit) van die Mpumalanga se Departement van Onderwys, is net so trots op die span.
Elizabeth het met isomalt vir die versiering gewerk en daarvanvlerke gemaak. Isomalt is ‘n komplekse suiker wat by hoë temperature soos suiker smelt, maar dit bly deursigtig, en word nie donker nie. Elizabeth en haar ma, Lorraine, die gasvryheidstudieonderwyser by die hoërskool, het baie beplanning en harde werk in haar swartsjokoladekoek ingestort.

“Dit is ‘n groot uitdaging om met swart sjokolade te werk. Die swart kakao is nie gemeng met genoeg meelblom nie en het ‘n lae vetinhoud. Nadat ons die koek 20 keer gebak het, het ek die bekende kosstillis en resepteskepper, Mari-Louise Guy, genader. Met haar advies het ons besef meer meel gaan die wenresep gee. Mari-Louise is ook betrokke by Kokkedoortjie op kykNET,” het Du Preez gesê.
“Ek moet ook vir Lenie Jacobs bedank. Sy is die assistent by die hotel- en spysenierskool. Gasvryheidstudies raak by die dag gewilder. Die vak is beroepsgerig en vaardighede word aangeleer wat leerders vir die res van hul lewens kan toepas. En met kollegas soos Chrismari Aucamp en die ander personeel, kan mens ‘n ver pad stap,” het Du Preez gesê.
Lees ook: Oud-Lydenburger teken nuwe rekord aan en word as pampoenkoning gekroon
Deel van Elizabeth se prys is ‘n studiebeurs vir ‘n jaar by die Johannesburg Culinary and Pastry School. Sy het ook ‘n skootrekenaar gewen.

“My droom was nog altyd om ‘n sjef te wees en in die gasvryheidsbedryf te kwalifiseer. Ek sou oorspronklik direk na matriek Stellenbosch oorweeg het, maar ek gaan nou vir seker eers hierdie studiebeurs benut en dalk daarna soontoe gaan,” het Elizabeth gesê. Michael van der Merwe, LHS se skoolhoof, het gesê die skool glo daarin dalk elke leerder moet groei en pronk in hul areas van belangstelling. Elizabeth het bewys dat talente saam met harde werk beloon word. Ons is baie trots op haar prestasie en kan nie wag om te sien hoe suksesvol sy gaan wees in haar toekomstige projekte nie. Jy is ‘n ster, Elizabeth,” het hy gesê.


