Plaaslike fotograaf genomineer in landswye kompetisie
Johan Orton is 'n finalis in Solidariteit se #GoeieGons-kompetisie in die fotografiekategorie. Die publiek kan tot 22 April vir hom gaan stem.
Hy leef sy passie vir fotografie al van kleins af saam met sy pa uit, en vandag is hy ‘n gerekende professionele fotojoernalis en sportfotograaf. Johan Orton is in Januarie genomineer vir Solidariteit se #GoeieGons-kompetisie in die fotografiekategorie.
Sowat ‘n week gelede het hy die nuus ontvang dat hy een van die finaliste in dié kategorie is. Orton sê dit is vir hom lekker om vir so iets genomineer te word, en reken dit kan hom help met mediablootstelling, iets wat altyd vir ‘n fotograaf van waarde is.

Hy doen onder meer vryskutfotografie vir kliënte soos Colorsport UK, SASPA, Rugby365, Rapport en Caxton Media, en het ook al verskeie wêreldsportgeleenthede afgeneem.
LEES OOK: Kaapsehoop in rep en roer oor Mathys Roets se eersdaagse optrede
“Sedert 2011 het ek 37 Springboktoetse gedek, wat natuurlik die Rugby Wêreldbekereindstryd in Japan 2019 insluit. Ek het die voorreg gehad om tydens die 2019 Wêreldbekerrugbytoernooi ‘n hotelkamer met die legendariese fotograaf, Wessel Oosthuizen, te deel.”

Dit kom dus ook nie as ‘n verrassing dat twee van die foto’s wat hy ingeskryf het, die Springbokke vertoon nie. Hy vertel dat “oom Wessel” sy mentor is en dat hy al ongelooflik baie by hom geleer het. Hy het ook al tennisbekendes soos Roger Federer en Rafael Nadal met sy kamera vasgevang.

Met die verskeidenheid van geleenthede wat hy bywoon, is dit byna vanselfsprekend dat sy foto’s al die voorblaaie van Beeld, Die Burger, SA Rugby Magazine en Rapport gehaal het. Verder is daar ook van sy foto’s in bekende boeke soos Koerantman, Portrait of Rugby en Rugby World Cup Action gepubliseer.

Hy sê die Here het hom werklik geseën, en stem saam met die stelling dat wanneer jou passie deel van jou werk is, jy eintlik nie regtig ‘n dag in jou lewe werk nie. Die Laevelders wat hom ken, sal ook weet hy is voltyds die bemarker en skakelbeampte by Laerskool Nelspruit. Orton is ook ‘n ambassadeur vir Canon SA en Ramble Bags, en het beide dié borge bedank.
Om vir Orton te stem, besoek https://solidariteit.co.za/goeiegons-2022-stem/. Dié skakel is ook op Solidariteit se Facebook-blad beskikbaar. Die publiek kan tot 22 April stem.
LEES OOK: Boer ly onder veestropers
