Local newsNews

Die kat kom weer

Cherré Swanepoel sê dit is werklik 'n wonderwerk dat haar kat, Quinn, terug is, en sy kon nie genoeg vir elkeen wat gehelp het, dankie sê nie.

“Die feit dat niemand haar gesien het nie, het my laat begin vra en na wit pels op die teerpaaie soek; ek het myself al vir die ergste probeer regmaak.” So sê Cherré Swanepoel van haar geliefde kat, Quinn, wat ná ses maande uiteindelik weer terug by die huis is.

Quinn het in September verdwyn, maar is eers ná maande se sosialemediaplasings en plakkate en gesoek op 8 April in Steiltes gevind, omtrent 8 km van haar eintlike tuiste naby i’langa Mall. Swanepoel sê sy was nie dadelik bekommerd nie, aangesien Quinn daarvan gehou het om in hul kompleks rond te loop. Sy was egter nooit vir langer as twee dae aaneen weg nie. Toe sy teen 14 September nog nie haar opwagting gemaak het nie, het Swanepoel besluit om op Facebook hulp te vra.

“Ek het haar foto’s en opsigtelike kenmerke toe óral geplaas; ek het dit seker op elke groep moontlik én al my blaaie geplaas. “Die plasings het in totaal 124 shares gehad, maar nie een moontlike sighting nie.”

Quinn.

Sy het weekliks elke liewe veearts, troeteldierwinkel en die DBV gebel om te hoor of daar enige nuus is.

“Daar was kort nadat sy weggeraak het, erge storms in die omgewing, en ek het glad nie geslaap nie. Ons het aanhou soek met geen, maar geen, nuus nie.”

LEES OOK: Kaapsehoop in rep en roer oor Mathys Roets se eersdaagse optrede

In Oktober het sy oral waar mense haar toegelaat het, plakkate opgeplak. So het een maand drie geword, en mense het haar hier en daar gekontak, maar geen van dié oproepe het resultate opgelewer nie.

Aan die einde van Oktober het sy en haar aanstaande, Jeandré van Staden, besluit om Pro-Life weer te besoek – dit is waar hulle vier jaar gelede vir Quinn gekry het – om te kyk of hulle nie dalk nog vir ‘n ander katjie ‘n huis kan gee nie.

Quinn.

Dié is toe Wilson gedoop. “Soos Wilson van Cast Away wat ‘n maatjie vir die man op die eiland was toe hy niemand gehad het nie,” sê Swanepoel. Op 8 April het sy ‘n oproep van ‘n vriendin gekry wat sê sy dink Quinn is gevind. “Ek het nie eens nodig gehad om dubbel seker te maak nie, ek het oombliklik geweet dis sý.”

Hulle het haar daardie aand om 19:00 gaan haal. Sy is glo in ‘n boom gekry, vasgekeer deur blaffende honde. “Sy het ons dadelik herken en begin spin en soene uitdeel; sy is nie buitensporig maer nie, maar wel vol bosluise, met ‘n seer agterbeen, wat vir my die idee gee dat iemand haar wel ingeneem het.”

Swanepoel sê dit is werklik ‘n wonderwerk dat haar Quinn terug is, en sy kon nie genoeg vir elkeen wat gehelp het, dankie sê nie.

“Dit wys jou net dat jy nie moed moet opgee nie; die dierekinders is baie meer bekwaam as wat ons ooit sal kan dink.” Rondom die tyd wat Quinn vermis geraak het, het Swanepoel en Van Staden ook uitgevind dat Swanepoel swanger is. Quinn is dus net mooi betyds terug om haar en Wilson se bababoetie te ontmoet.

LEES OOK: Boer ly onder veestropers

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button