Plaaslike praktisyns bederf vir onbaatsugtigheid
Dié bederf was ter viering van Internasionale Doktersdag.
Ons Spreekkamer Belladonna het op 16 Februarie geopen, en op Internasionale Doktersdag het die betrokke gesondheidspraktisyns ‘n dankbaarheidsoffer vir hul werk daar ontvang. Hierdie dag is op 30 Maart gevier en Elize Visser, die voorsitter van die Solidariteit Helpende Hand Laeveld-tak, en Alma Johnson, die ondervoorsitter van hierdie tak, het vir elke dokter, oogarts en tandarts ‘n bederfie geneem.
Hoewel Ons Spreekkamer nou slegs bietjie meer as ‘n maand gelede gevestig is, is daar reeds ses pasiënte die maand behandel.
“Ons bedank elkeen van ons 10 dokters wat #saamdroom om armoede aan te spreek, en ‘n persoon se lewe radikaal om te swaai,” sê Solidariteit Helpende Hand. Die dokters wat hier betrokke is, is Frans Fourie, Toffie Bleeker, Dave Fourie, André Hollmann, Charl Pelissier, Zelda Retief, Ingrid Siebrits, Inge van Dyk, Luané Burger en Anne-Marie van Zyl.
“Ons is ook dankbaar vir die oogarts, dr. Jacques Eybers, die tandartse, drs. Liezl van der Walt en Marius van der Walt, ons fantastiese apteker, Pieter Muller, en Ampath se Jahnine Coetzer wat vir ons ongelooflike dienste lewer! “Ons Spreekkamer is ‘n inisiatief van Solidariteit Helpende Hand. Ons waardeer jul mooi harte en ons is dankbaar vir jul tyd en ongelooflike gawes wat julle beskikbaar stel.”
Ons Spreekkamer is vir behoeftiges. Die beleid tot kwalifisering tot hulp sluit in dat ‘n gesin minder as R8 000 per maand moet verdien. Dit is vir diegene wat slegs staatstoelae ontvang, vir pensioenarisse, werklose individue en kinders van behoeftige ouers.
LEES OOK: Kaapsehoop in rep en roer oor Mathys Roets se eersdaagse optrede
