Pumas lê verrassing-hospitaalbesoek by Ilana in Mbombela af voor sy ontslaan word
Na 86 dae is Ilana Thomas terug by haar ouerhuis op Lydenburg.
Ilana Thomas (11) was vanaf Maandag 24 Januarie in die hospitaal ná ‘n reeks beroertes ‘n breinoperasie by die Unitas Hospitaal in Pretoria genoodsaak het.
Sy is op 15 Februarie na die Mediclinic Nelspruit oorgeplaas en het daarna rehabilitasie by die StepMed Rehabilitasiesentrum ontvang.
Daar het sy verskeie besoekers ontvang, en die Pumas-rugbyspelers was gewis haar grootste bederf. Ruwellyn Isbell, Franna Kleinhans, Samuel Sikiwe en Riaan Lameley het haar en haar ma op Donderdag 14 April verras.
Ilana is op 20 April ontslaan en is huis toe.

Lees ook: Lydenburg Wyngilde ontdek goeie pasmaats vir vis- en seekosdisse
Haar ma, Elaine Thomas, wat heeltyd langs haar dogter se bed in StepMed was, het erken dat die harde werk nou begin.
“StepMed, en voor dit Mediclinic, het so mooi na haar omgesien en terapie verskaf. Ek is bly sy is nou by die huis. Die besoek van die Pumas het haar baie opgebeur. As ‘n downsindroomkind is sy baie positief. Ons glo met terapie sal sy net sterker en sterker word,” het sy gesê.
Ná haar operasie by die Unitas Hospitaal is sy deur die spesialiste, drs. Michael Lippert en Joachim Mennen, met Moyamoyasindroom gediagnoseer. “Moyamoya” is ‘n Japanese term en die sindroom is die eerste keer in die vroeë 1960’s gediagnoseer. In leketerme beteken dit die netwerk van vernoude kapillêre bloedvate lyk soos ‘n rookwolkie wanneer dit geskandeer word.
Met hierdie operasie verbind die dokters ‘n spesifieke tak van die kopvelslagaar aan ‘n ander tak wat aan die breinslagaar op sy buitenste oppervlak gekoppel is.
Die spesialiste het die gesin in Januarie gewaarsku dat die herstelpad lank sal wees, want direk ná die operasie het Ilana drie beroertes en ‘n reuse- epileptiese aanval gehad.

“Ilana se versorging by die huis is nou vir ons gesin ’n nuwe onbekende pad wat voorlê. Die trane loop nou eers en ons twee sal weer moet aanpas by die nuwe roetine. Ek is bang ek gaan nie goed genoeg vir Ilana en my mense kan doen nie. Ek is bang my geloof is te min en dat ek nie vir Lana gaan kan dra nie. Al woorde wat ek vanaand vir die Here kan sê is dankie. Dankie dat my kind leef. Sy genade is vir ons genoeg. Dankie vir almal wat ons tot hier in gebed en liefde gedra het,” het Elaine gesê.
