Local newsNewsProperty News

Ingwenyama laat nie die bal met All Blacks-besoek val nie

Ingwenyama Conference & Sports Resort was waar die All Black-rugbyspan hulself tuis gemaak het vir drie weke.

‘n Spesiaal afgekordonde “veldkamp” en geposjeerde eiers by die dosyne. Dié was maar enkele van die interessanthede wat die unieke Ingwenyama Conference & Sports Resort buite die dorp beleef het met die All Blacks-rugbyspan wat hulle vir drie weke hier tuisgemaak het om vir die geskiedkundige toets teen die Springbokke voor te berei.

“Die 65 mense wat die All Blacks-span uitgemaak het, is werklik die mees dierbare, vriendelike en uitsonderlike groepe wat nog ooit hier by die oord oorgebly het,” sê Piet de Jager, eienaar van die kompleks.

Volgens hom moes die wiele sedert Januarie in die hoogste rat hardloop.

“Ons aanbieding- en operasionele planne vir sulke groot geleenthede, wat ons destyds vir die 2010-sokker ontwikkel het en wat toe uiters suksesvol was, het ons nou tydens die besoek van die All Blacks geïmplementeer.

LEES OOK: Saak teen Izak du Plessis van rol verwyder

“Die voorbereidings en die goeie gehalte van die beskikbare fasiliteite het die besoekers, vanaf Max Spence, die president van All Blacks-rugby, Ian Foster, die hoofafrigter, en Sam Cane, die spankaptein, beïndruk,” vertel De Jager. “Die spanbestuur is ongelooflike puntenerig, nie net oor wat hulle van die fasiliteite verwag nie, maar ook van die spelers en dit wat rondom hulle gebeur. Hulle is hoogs sekuriteitsbewus en ons moes nogal bontstaan om hulle te akkommodeer.”

Volgens De Jager het hulle in Januarie, die oomblik toe dit bevestig is dat die toets by die Mbombela Stadion gespeel gaan word, huiswerk begin doen. Sherley Richards, die oord se bestuurshoof, het talle e-posse aan die All Blacks se organiseerder gestuur om Ingwenyama aan te bied. Na ‘n paar Zoom-vergaderings is daar besluit dat die All Blacks hulle hier sou kom voorberei. Een van die grootste faktore wat in Ingwenyama se guns getel het, is dat dit as ‘n een-stop-fasiliteit vir die besoekers dien.

Lindelwa Mkasi, Sam Whitelock and Ria de Jager.

“Hulle het alles op een plek gehad. Van blyplek vir die span, elke denkbare oefen- en ontspanningsfasiliteit, asook ‘n restaurant. Foster sê dit was vir hulle uniek omdat die span net op hulle voorbereiding kon konsentreer, en nie soos gewoonlik ure op busse hoef te spandeer nie. Binne die drie weke wat hulle ons gaste was, het ons mekaar soos familie aanvaar. Ek het Maandag, toe die span vertrek het, snot en trane gehuil toe ons hulle groet,” vertel Richards.

Van die interessanthede wat op die All Blacks se wens- en beheerlys was, is:

• Die oord moes in twee verdeel word sodat daar behoorlike toegang en beheermaatreëls toegepas kon word. Net die span en oordpersoneel is toegelaat.

LEES OOK: Vrywilligers bemoedig by Step in Lydenburg

• Die gimnasium moes opgradeer word volgens die span se behoeftes. Die 55 kg-gewigte moes aangevul word met 75 kg-gewigte, 16 Air Bikes moes spesiaal aangeskaf word, en alle etes is deur die span se dieetkundige voorgeskryf.

• Ingwenyama is net toegelaat om by twee geleenthede self etes aan te bied. Die twee braais met skilpadjies, boerewors, pap en ‘n tamatiesmoor is opgedis. Die span was so beïndruk daarmee dat daar toe vier sulke etes aangebied is.

• Spelers mag niks anders as water en vrugtesap drink nie. Hulle word geen drank of gaskoeldrank toegelaat nie.

• Elke speler is elke dag voor ontbyt deur die mediese span geweeg om te verseker hulle het nie die vorige dag te veel geëet en gewig opgetel nie.

• Die koninggrootte matrasse in die spelers se kamers moes met spesiaal voorgeskrewe matrasse vervang word.

• Almal, insluitend die oord se personeel, moes maskers dra uit vrese vir Covid-19.

• Buiten die drie volle etes wat per dag bedien is, moes ‘n gesondheidsbuffettafel ook 24 uur per dag beskikbaar wees sodat spelers enige tyd vir hulle versnaperings kon gaan haal het.

• De Jager-hulle het uit eie beweging elkeen van die 65 spanlede hulle eie kamer gegee. Spelers het dus nie soos normaalweg twee-twee in die kamers gebly nie.

• Die A-veld waar die span geoefen het, se gras is omgeploeg en met ‘n meer geharde grassoort vervang.

• Een aand na ete het die oord ‘n reusevreugdevuur in die sportboma gemaak. Die span het so lekker om die vuur gekuier dat die spanlede elke aand self ‘n vuur gepak het.

“Hierdie was vir ons ‘n groot geleentheid. Selfs groter as die 2010-sokker. Ons het geweet ons mag nie die bal laat val nie,” sê De Jager.

Do you have more information about the story?

Please send us an email to editorial@lowvelder.co.za.

For free breaking and community news, visit Lowvelder’s website: Lowvelder

For more news and interesting articles, like Lowvelder on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button