Local newsNews

Polisie maan gewapende roof gaan toeneem

Twee gewapende rooftogte het binne twee dae van mekaar in Lydenburg plaasgevind.

Op Saterdag om 20:00 het vyf verdagtes ’n groep familie en hul vriende tydens ’n braai aangehou.
Die slagoffers is glo met gewere en messe aangehou en beveel om hul selfone, skootrekenaars en ander huishoudelike items te oorhandig.

Die vyf verdagtes het almal balaklawas gedra.
Die slagoffers is vasgebind en na ’n buitekamer geforseer.

Een van hulle kon hulself bevry en het hul ouma, wat in haar woonstel was, om hulp geroep. Die verdagtes het blykbaar nie geweet sy is ook op die perseel nie. Die huiseienaars en gaste was besig om te braai toe die verdagtes oor die muur spring, aan die kant van die huis waar nie ‘n kamera is nie.

“Die rowers was baie georganiseerd en jy kon sien hulle weet wat hulle doen. Van die advies wat ons gekry het na die roof, is om ten alle tye ‘n paniekknoppie aan jou te hou, iets wat nie ‘n geraas maak nie. Ons panniekknoppie het op my bedkassie gelê. Almal wat hierdeur geraak is gaan vir berading, ” het een van die slagoffers aan die Steelburger/Lydenburg Nuus gesê.

Geen ernstige beserings is aangemeld nie.
Die slagoffers het nie die voertuig gesien waarmee die verdagtes gevlug het nie.

Die laaste opsporingspin van een gesteelde selfoon het gewys dit is omtrent
25 km buite Lydenburg op die Longtompas. Daarna het die sein verdwyn.

Lees ook: Nog baie myle om in hierdie skoene te stap

Maandag omstreeks 20:00 is ’n ander gesin, ’n paar strate van die eerste voorval, ook beroof.

Die verdagtes het die huiseienaars en hul seun met bruin maskeerband vasgebind, nadat die verdagtes toegang tot die huis verkry het.
Die seun kon sy ouers help om los te kom nadat die verdagtes met huisraad, selfone en onder meer ‘n televisie gevlug het.

Daar is ook bewerings dat daar oor die naweek pogings by verskeie huise was om honde te vergiftig.

“Ons vra vir inwoners om bedag te wees, en nie motors en motorhekke ongeslote te los nie. Die Lydenburg SAPD is op gereedheid weens die feit dat ons die Kersseisoen binnegaan en dan ’n styging in misdaad merk,” het sers. Cave Dilebo van die Lydenburg SAPD gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button