Local news

Vlaag van diefstal en ‘n rooftog laat Barberton-boer oorweeg om plaas te verkoop

Dit het begin by veediefstal op sy plaas, en toe sommer 'n aanval op hom en sy vrou ook. 'n Boer van Barberton deel sy verhaal.

Asof die diefstal van sy vee nie genoeg is nie, moes ‘n boer van Barberton nog ‘n aanval óók deurmaak.

Tussen 2 September en 18 Oktober, die dag wat Pieter Sofianos op sy plaas, Roselin, aangeval is, is daar op agt onderskeie dae van sy vee gesteel – “En toe vat hulle my,” sê hy.

Van sy varke is gedurende die nag gesteel, terwyl die bokke deur die dag geteiken is. Juis as gevolg van die voortdurende diefstal was hy die dag van die aanval omstreeks 13:00 op ‘n vierwielmotorfiets by sy bokke om hulle op te pas.

LEES OOK: Oorlede baba MJ se tweede verjaardag by Rob Ferreira Hospitaal gevier

Hy sê iemand het van agter af gekom, hom gewurg en van die fiets af gepluk. Hulle het sy hande en voete vasgebind, en toe sy hande aan sy voete. Daarna het hulle iets oor sy kop getrek.

Hy sê daar was vier aanvallers en hy onhou hulle het pangas gehad.

“‘n Mens voel magteloos. Soveel dinge gaan deur ‘n mens se kop en alles is deurmekaar. Jy hoop maar vir die beste en vir genade van Bo.”

Die aanvallers het volgehou dat hulle geld soek. Hy het vir hulle gesê hulle moet hom huis toe vat dat hy vir hulle geld kan gee, maar hulle het geweier en gesê hy moet sy vrou, Marietjie, bel sodat sy dit kon bring.

Dit is toe ook wat hy noodgedwonge gedoen het. Sy vrou het die opdrag gehoorsaam.

LEES OOK: Vermoorde Laeveld-boer se familie onthou hom só

Pieter onthou die dreigemente. “Ek het baie gepraat, dan het hulle die pangas teen mekaar getik en gesê ek praat te veel, dan het ek maar weer stilgebly.”

Toe sy vrou by hulle aankom, is sy ook vasgebind. Daarna het een aanvaller by hulle gebly terwyl die res na die huis toe is om verder te plunder.

Die hele affêre het net voor 18:00 tot ‘n einde gekom. Net so is die rowers op hul pad en die egpaar op hulle s’n nadat die rowers hulle losgemaak het.

Sodra hy kon, het Pieter sy seun gebel.

“My seun, hulle het my gevat vandag. Bel die polisie dat hulle kom.”

Volgens ‘n provinsiale polisiewoord- voerder, brig. Selvy Mohlala, is een inhegtenisname tot dusver gemaak, en Pieter se vuurwapens is ook teruggekry.

Maar selfs in die oggendure net ná die aanval is daar wéér van sy bokke gesteel, en toe weer op 24 Oktober. Hy is al raadop, en sê op hierdie stadium dink hy dis omtrent beter om eerder die plaas te verkoop.

“Dit hou net aan en aan. Dit voel amper al of ek die welsyn is soos wat ek vir hulle ‘skenk’.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button