Innibos is vanjaar terug op sy pos
Hier is die datums vir Innibos 2023 en só lyk die nuutste lid van die Innibos-familie.
Nog net ses maande, dan is die Laeveld se gunstelingfees weer terug in die stad se strate.
Ná drie jaar se projekte is Innibos weer vanjaar van 29 Junie tot 2 Julie terug in sy gewone tydgleuf en formaat.
En daar is ‘n nuwe lid in die familie – dis ‘n spiksplinternuwe jaar en Innibos het ‘n vars klein Frikkie uitgebroei! Ja, Innibos se vlieënde vlakvarkie het ‘n boetie gekry. Hy is nuut, vars en propvol idees.
LEES OOK: IN FOTO’S: Twee dae van pret en plesier by Innibos Buitelug Familiefees
Die feesorganiseerders kan nie wag om binnekort die opwindende Innibos-program met die publiek te deel nie!
Soos verlede jaar genoem is die sangers vir die hoofverhoog reeds gefinaliseer, en jy kan daarna uitsien om groot name soos Appel, Bok van Blerk, Francois van Coke, Riana Nel, Brendan Peyper, Droomsindroom, Emo Adams, Robbie Wessels, Spoegwolf, Bernice West, Corlea Botha, Demi Lee Moore, Early B, Elvis Blue, Jo Black, Refentse, Riaan Benadé, Ricus Nel, Ruhan du Toit en Sunset Sweatshop daar te kry. Nóg meer kunstenaars sal ook later bekendgemaak word.

Daar is aansoekvorms vir opkomende kunstenaars op die Innibos-webwerf. Dié aansoeke sluit aan die einde van Januarie.
Bo en behalwe die Bosmall, beplan Innibos ook ‘n splinternuwe kuiertuin, Die Wingerd, op die feesterrein, waar daar gesprekke, wynproeë, demonstrasies en meer gaan plaasvind.
Aansoeke vir stalletjies is ook op Innibos se webwerf beskikbaar.
LEES OOK: So lyk van Laerskool Bergland se nuwe gr. 1-gesiggies
Vir die eerste keer gaan daar ook talle straatsangers by die feesterrein optree om ‘n feestelike atmosfeer te skep en die kinderarea, Woelwaters, gaan vir genoeg pret en plesier vir die kleinspan sorg.
Feesgangers kan hulle ook regmaak vir ‘n klomp nuwe produksies wat in verskeie venues in die stad aangebied gaan word: dramas, komedies, musiekteater en selfs ‘n opera.
Innibos 2023 beloof om die kunste in oormaat na die Laeveld te bring!
