Adam Tas by vanjaar se Maroela Makiti
Kom sien Adam Tas en soveel meer by vanjaar se Maroela Makiti.
Die Maroela Makiti vind vanjaar by die Mbombela Stadion plaas en beloof om ‘n heerlike dag te wees.
Teken sommer nou al volgende Saterdag 28 Januarie op jou kalender aan.
Die organiseerders begin reeds die Vrydagaand met die Pumakiti Vasvra, wanneer die Pumas-span saam gaan kuier.
Buiten die hope pret en toets van jou kennis, word die geleentheid gegee om saam met Jimmy Stonehouse en die Pumas te kuier, ‘n foto met die Curriebeker te neem, asook op verskillende memorabilia te bie, soos ‘n Springboktrui wat deur Faf de Klerk en Duane Vermeulen onderteken is, ‘n Pumas-trui en -bal onderteken deur al die spelers, en nog meer.
LEES OOK: Innibos is vanjaar terug op sy pos
Daar is tafels teen R5 000 per tafel vir 10 mense beskikbaar. Ingesluit is ‘n driegangmaaltyd, ‘n wyn- en jenewerproe asook natuurlik die sportvasvra.
Kontak Hannes de Wet by 082 852 3129 of Tilana de Wet by 061 947 3918/087 149 0323 vir enige Pumakiti-navrae.
Dan gaan Adam Tas Saterdag die besoekers met sy musiek vermaak, en plaaslike kunstenaars gaan ook tussendeur optree. Toegang is gratis.
Die geleenheid begin reeds om 07:00 met ‘n heerlike boereontbyt.
Daar is natuurlik ‘n hele reeks maroelaprodukte wat op jou wag, maar ook al die ander staatmakers soos vetkoek, kerrie-en-rys, jafels, pannekoek, nagereg en baie meer.
Uit die Maroela-oord is daar verskeie produkte om na uit te sien, onder meer maroelajellie, -blatjang, -likeur en -bier.
Die organiseerders het ook nie van die jeug vergeet nie; daar is boog- en kettieskiet, springkastele met en sonder water, asook ‘n verskeidenheid aktiwiteite vir die kleiner kinders.
LEES OOK: Bergvlam vier hoof se verjaardag
Twee nuwe items is ‘n Frisbee-vertoning en die geleentheid om te kyk hoe ver jy kan gooi. Dan is daar ook gholfbalslaan tot die naaste aan die pen.
Buscor se bussie gaan die kinders weer rondry en daar is pret met ‘n “bull ride” en ander aktiwiteite.
Daar is ook plek vir buitelugstalletjies vir uitstallers van buite beskikbaar. Indien jy belangstel, stuur ‘n e-pos aan maroelamakiti@gmail.com of kontak Tilana vir meer inligting.
Vir enige ander navrae, skakel Tilana of Danie Erasmus by 083 365 2785.
