Local newsNews

Man in veld aangerand en met pepersproei verblind op pad na Dwarsriviermyn in Limpopo

Die moontlikheid is nie uitgesluit dat die slagoffer van sy huis af agtervolg is omdat hy vroeër die oggend goedere verkoop en 'n groot bedrag kontant in sy besit gehad het nie.

Jacques Giani is op Woensdag 18 Januarie ongeveer 11:45 aangerand, toe hy langs die Sekhukhune-pad (R555) afgetrek het. Hy het probleme met sy Mazda 2 se rathefboom ondervind.

“Ek het omtrent 5 km nadat ek op die Sekhukhune-pad van Lydenburg afgedraai het, stilgehou. Ek het die enjinkap oopgemaak en kon die fout aan die rathefboom identifiseer. Ek het uit die hoek van my oog gesien ‘n wit Nissan Hardbody hou agter my stil. Ek het aangeneem dit is mense wat my wou help en het aangehou om aan die enjin te werk,” het Giani gesê.

Die verdagtes het binne sekondes aan beide kante van hom verskyn, hom met pepersproei in sy gesig gespuit, aan sy arms gegryp en ’n paar meter die veld ingesleep. Giani is in die ribbes geskop en is verder in die veld aangerand. Die verdagtes het hom vasgepen en ook sy skoene uitgetrek.

Lees ook: Boer in plaasaanval doodgeskiet op Badfontein

Weens die tydelike verblinding van die pepersproei, het Giani etlike minute in die veld gewag voor hy kaalvoet na die motor teruggestrompel het. Die verdagtes was reeds weg.

Die mans het met Giani se skootrekenaar, ‘n groot bedrag kontant en sy beursie gevlug. Nadat sy sig verder verbeter het, het hy sy motorsleutels by die linkeragterdeur gesien.

“Ek kon self stadig na die Maartinshoop-polisiestasie toe ry, maar kon skaars ‘n skrefie lig voor my sien. Die polisiemanne het onmiddellik water oor my kop gegooi, my bygestaan en teruggeneem na die toneel vir ‘n ondersoek. Vroeër die oggend het ek goedere by my huis verkoop, daarom het ek kontant by my gehad. Of die verdagtes daarvan bewus was, kan ek nie met sekerheid sê nie. Die polisie het genoem die verdagtes het aangeneem my Mazda is onrybaar, die sleutels gelos en daarom ook nie die voertuig gesteel nie,” het Giani gesê.

Die Maartinshoop-polisiestasie het aan Steelburger/Lydenburg Nuus bevestig dat ‘n saak van aanranding en diefstal ondersoek word.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button