Local news

R400 000 ná meer as vier jaar aan Barberton-rugbyspeler toegestaan

Ná 'n vuisgeveg tydens 'n rugbywedstryd tussen twee Laeveld-klubs in 2018, ontvang Jaice Terblanche duisende in vergoeding.

Dit was ‘n proses van meer as vier jaar, maar ‘n voormalige Barberton Rugbyklub (BRK) -speler gaan uiteindelik vergoed word ná beserings wat hy opgedoen het tydens ‘n geveg midde-in ‘n wedstryd in 2018.

Destyds toe die voorval plaasgevind het, het Laevelder berig dat chaos op 11 Julie daardie jaar op Laerskool Steelpoort se rugbyveld uitgebreek het toe Ohrigstad se Ratels en BRK se spelers in ‘n vuisgeveg betrokke geraak het – Jaice Terblanche is ernstig beseer tydens dié geveg.

“In die 11 jaar as borg van die Barberton Rugbyklub het ek nog nooit so iets gesien nie,” het Shaun van Rooyen, die eienaar van VR Cargo en ooggetuie daardie jaar, oor die voorval gesê.

Ohrigstad se lynregter het dié middag nie opgedaag nie en Van Rooyen het ingestaan. Hy het gesê die klubkragmeting is in die 45ste minuut weens ‘n gewelddadige bakleiery stopgesit.

LEES OOK: Chaos breek uit tydens klubrugbywedstryd

Terblanche, wat toe die kaptein van die span was, het die geveg probeer keer toe ‘n agterspeler hom so hard van agter af met die vuis bydam dat hy frakture aan sy kakebeen opgedoen het.

Twee ander spelers het ook ernstige beserings in die gesig opgedoen en moes onder meer vir X-strale gaan en steke kry.

Terblanche het ‘n siviele eis teen die speler wat hom geslaan het, ingestel. Hy het onlangs aan Laevelder bevestig dat die hof beslis het dat daar R400 000 plus rente aan hom uitbetaal moet word; sy regskostes moet ook gedek word.

Hy sê hy het gelukkig nie enige oorblywende gevolge van die besering nie en is baie bly dat die aangeleentheid nou tot ‘n einde gekom het. Dit was maar ‘n langdradige proses.”

Terblanche het tot verlede jaar nog vir die klub gespeel, maar het intussen vir eers sy tokse weggebêre.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button