Maroela Makiti 2023 weer eens ‘n voorslag
Vanjaar se Maroela Makiti het Mbombela Stadion behoorlik op horings geneem.

Besoekers aan die Maroela Makiti by die Mbombela Stadion op Saterdag 2 Februarie is beloon met ‘n dag propvol musiek, dans, speletjies en ‘n reeks plaaslik vervaardigde produkte, insluitende van die unieke maroela, natuurlik.
Die feesgangers was bevoorreg genoeg om deur die plaaslike sanger, Debbie Kriel, en die welbekende en gewilde Adam Tas, vermaak te word.

Buiten hierdie optredes en al die maroelaprodukte te koop, soos maroelajellie, blatjang, likeur en bier, het die besoekers die opsie geniet om aan die vetkoek, kerrie-en-rys, jafels, pannekoeke en nageregte te smul. Springkastele, waterglybane en ‘n meganiese bul het die kleintjies besig gehou, en boog- en kettieskiet het selfs van die oueres betrek.
LEES OOK: Nelspruit Eisteddfod datums aangekondig
Die Maroela Makiti het ook twee nuwe aktiwiteite bekendgestel: a Frisbee-vertoning en ‘n gholfbal die naaste aan die pen slaan.

‘n Stalletjiehouer, Gert MacDonald, sê die dag het baie goed verloop en dat die mark ‘n beduidende skare besoekers geniet het.
Een so ‘n besoeker, Elet Kruger, sê die Mbombela Stadion is ‘n briljante venue vir die geleentheid, en dat almal blyk hope pret gehad het en baie lieflike produkte teen redelike pryse kon bekom het.












