Die tuispanne maak skoonskip by die eerste Witrivier Rugbyklub-sewestoernooi
Op 28 Januarie het 10 sewesspanne mekaar die stryd in die versengende Laeveldse hitte aangesê.

Wat kry jy as jy ‘n rugbybal, 10 klubspanne, 28 wedstryde en drie kategoriewenners kombineer?
Die Witrivier Sewes, dis wat.
Op Saterdag, 28 Januarie, het Witrivier Rugbyklub sy eerste jaarlikse sewesrugbytoernooi aangebied. Klubspanne van Nelspruit, Malelane en Witrivier het sake in dié toernooi uitgespook. Die spanne is in twee groepe verdeel waarin rondomtaliewedstryde gespeel is, gevolg deur die halfeind- en eindstryde.
LEES OOK: Pumakiti-vasvra by Mbombela Stadion ‘n bate vir die Maroela Makiti
Ten spyte van die stikkende hitte wat hierdie Laeveldse Saterdag byna verswelg het, was kookwaterrugby aan die orde van die dag. Al drie Witrivier se spanne het ‘n suksesvolle dag op die veld beleef. Die Witrivier Old Boys het Nelspruit 2 in die bakfinaal aangevat en met 14 punte teenoor7 geseëvier.
In die skildfinaal was dit Witrivier 2 wat die oorhand oor Nelspruit se tweede span gehad het, met die telbord wat op 42-10 te staan gekom het.
Die wedstryd van die dag was vir seker dié een tussen deur Witrivier 1 en Nelspruit 1 in die bekerfinaal. Ná 20 minute was dit die Witrivier-span wat as wenners uit die stryd getree het om die beker met 36-5 te beklink.
Dit was egter nie net die manne op die veld wat hulle gate uit geniet het nie. Daar was ook ‘n springkasteel en glybaan om die jongspan besig te hou.

