Local news

Pumakiti-vasvra by Mbombela Stadion ‘n bate vir die Maroela Makiti

Dié sportvasvra het deelnemers se sportkennis tot die uiterste beproef.

Die presidentslosie in die Mbombela Stadion was op Vrydagaand, 27 Januarie, ‘n mengsel van gefokusde gesigte, lekker lag en samesyn.

Die Pumakiti-sportvasvra is vir die eerste keer in 2019 in samewerking met die Pumas Rugbyunie as ‘n nuwe toevoeging tot die Nederduitsch Hervormde Kerk se Maroela Makiti aangebied. Die idee is die breinkind van die feeskomitee, met die doel om die fondse verder te styf.

Die Pumas se hoofafrigter, Jimmy Stonehouse, en die seremoniemeester vir die aand, Herman van Staden, het ook die vrae vir die vasvra opgestel. > Fotos: Jana Schlechter

Herman van Staden, een van die organiseerders en die seremoniemeester van die aand, het gesê hierdie jaar se vasvra is uitstekend bygewoon en ondersteun. “Om die waarheid te sê, met die formaat van die geleentheid, het ons bes moontlik baie naby aan die maksimum hoeveelheid tafels gekom. Daar het 17 spanne deelgeneem. Die veiling alleen se opbrengs was R52 000,” het hy gesê.

Die vasvra is in twee kategorieë verdeel. Die eerste het oor die Springbokke se rugbygeskiedenis, die reuse van die spel, en die geskiedenis van die Curriebeker gehandel, terwyl die tweede aan Suidoos-Transvaal en die Pumas se geskiedenis behoort het.

“Die deelnemers en gaste is dit eens dat dit ‘n puik aand was, en dat hulle beslis volgende jaar sal terugkeer. Die Pumas-spelers en -bestuur se teenwoordigheid, wat dit ‘n luisterryke geleentheid gemaak het, se terugvoer was dat dit ook vir hulle ‘n baie positiewe aand was, en dat hulle dit voortaan as ‘n blywende vennootskap wil sien,” het Van Staden gesê.

Volgens hom is die komitee ook heel in hul noppies oor hoe hierdie aand verloop het, en dink hulle dit kon beswaarlik beter gegaan het. Talle items is opgeveil en ‘n geraamde ondertekende memorabilia van ‘n Max Verstappen- Red Bull-hemp, met ‘n paar aksiefoto’s, is vir R34 000 verkoop.

Die Pumas se bestuur het met die louere weggestap. Die Allegaartjie-span was tweede en Thomas Tyres derde.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button