Die wiele fluit in Barberton met bergfietsuitdaging
Die 2023 Baberton-bergfietsuitdaging was uitmergelend, en die Laeveld-hitte het beslis nie teruggehou nie.

Die Barberton Rotariërsklub het op 28 Januarie sy 27ste jaarlikse bergfietsuitdaging aangebied.
Vanjaar se resies het volgens Chris Rippen, die klub se president, weer getrou gestand gedoen aan sy leuse: “Not as delicate as a daisy“, want die toestande was baie uitdagend. “Dit was definitief enigiets behalwe maklik. Van die mense se monitors het tot temperature van 44 grade Celsius gemeet,” het Rippen gesê. Uiteraard was die waterpunte baie besig.
LEES OOK: Team South Africa retain African Amateur Stroke Play Championship title at Leopard Creek
Fietsryers kon vir ‘n 110 km-resies, 77 km, 50 km, 30 km en ‘n 20 km ene inskryf. Shaun-Nick Bester, seun van die veteraan Comrades -atleet, Nick Bester, het die ultramarathon (110 km) resies in vier uur, 38 minute en 44 sekondes gewen, met Nico Bell van Mbombela kort op sy hakke in tweede plek.

Ook in die ultramarathon was Taryn-Maie Wille die eerste vrou oor die wenstreep, sowat 81 minute voor haar opvolger.
Ander kategoriewenners was Grant Watson (77 km), Andrew Birkin (50 km), Samuel McIntosh (30 km) en Scholtz Boshoff (20 km).
Die Barberton-bergfiets-uitdaging het reeds in 1997 begin en groei jaarliks van krag tot krag. Volgens Rippen was daar vanjaar ‘n hele paar honderd inskrywings. “Dit is nog steeds die grootste resies in die Laeveld-area, waaroor die Barberton Rotariërklub baie dankbaar is,” het Rippen gesê.
LEES OOK: Lowveld rugby clubs preparing for upcoming season


Nóg ‘n noemenswaardige mylpaal vir die klub is dat twee van die oorspronklike lede wat deel was van die groep wat die uitdaging begin het, steeds deel vorm van die organisering daarvan. Roland Jones en Ben Theron sit al vir 27 resies jaar na jaar ‘n handjie by om van dié geleentheid ‘n sukses te maak.
Die Barberton-bergfiets-uitdaging dien as ‘n fondsinsamelingsgeleentheid vir die klub. Die fondse word in die gemeenskap teruggeploeg. Die meerderheid van die geld word aan ‘n plaaslike ouetehuis geskenk sodat hulle hul maandelikse inkopies kan doen.

