Local news

Laerskool Laeveld groet twee steunpilare

Hulle was van die begin af deel van die skool en het deur die jare hul stempel daarop afgedruk.

Ná 40 jaar se diens is Marietjie Roberts (74) en Michael Nkosi (64) al so te sê deel van die meubels by Laerskool Laeveld.

Laeveld het op 6 Februarie sy 41ste bestaansjaar gevier, en beide Roberts en Nkosi het 40 van die 41 jaar die paadjie saam met die skool gestap. Die twee het onderskeidelik op 1 Februarie en 5 April 1983 daar begin.

LEES OOK: Mbombela schools take each other on at Laerskool Nelspruit

Beide Roberts, wat steeds die sekretaresse is, en Nkosi, wat met sy kundigheid in die tuin werk, het net goeie dinge oor hulle tyd by die skool te sê.
“Ons is soos ‘n groot familie, dis hoekom ek so lank hier bly,” het Roberts gesê, terwyl Nkosi instemmend knik. Saam het die twee klippe gekou, en saam het hulle gegroei. “Ons het saam die skool van niks af begin nie.”

Nkosi maak aan die einde van April klaar en meen dat hy die mense, en veral die kinders, die meeste gaan mis. “Ek like hulle baie,” het hy gesê. Oor Nkosi het Roberts gesê dat daar so baie mense is wat respek vir hom het en dat hy ‘n slag met die kinders het. “Hulle weet ook hoe ver hulle met hom kan gaan,” het sy bygevoeg. Hy was meer as net ‘n terreinwerker.

LEES OOK: White River Primary learner (11) proves no dream is ever unobtainable

En dis hoe ook sake by Laerskool Laeveld gaan. “Daar is nog nooit ‘n onderskeid tussen die kantoorpersoneel, werkers en onderwysers getref nie. Niemand is ooit uitgesluit nie. Almal word oor dieselfde kam geskeer,” het Roberts gesê. Volgens dié twee is dít ook waarom dit vir hulle so moeilik is om te gaan. “Dis ‘n leefwyse.”

Dit was nie vir hulle ‘n straf om dag in en dag uit vir 40 jaar lank wakker te word en soggens skool toe te gaan nie. Hulle kan feitlik nie die dag indink dat hulle nie meer daardie selfde roetine gaan volg nie.

Terwyl Nkosi weet wanneer hy die skool gaan groet, is Roberts onseker en meen sy dat sy sal bly solank hulle haar nog nodig het.

LEES OOK: WATCH: Botanical garden in Mbombela amid heavy rainfall

Laerskool Laeveld het op 1 Februarie hierdie twee besonderse personeellede tydens ‘n spesiale saalbyeenkoms, waar die voormalige hoof, Theo Krüger, ook by was, vereer.

In ‘n Facebook-boodskap op die skool se blad, sê Krüger hoe bevoorreg hy was om saam met Roberts en Nkosi te werk. “Julle het diep spore getrap en julle invloed het ewigheidswaarde.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button