Theo Krüger groet Laerskool Laeveld ná agt jaar aan die stuur
Dit was 'n bittersoet oomblik toe Krüger op 31 Januarie deur die erewag leerders oor die rugbyveld van Laerskool Laeveld gestap het.

Die leerders, onderwysers en ouers van Laerskool Laeveld het op 31 Januarie byeengekom om ‘n erewag vir Theo Krüger, ‘n oudskoolhoof, te staan en hom só te groet.
Dit was ‘n bittersoet oomblik toe Krüger deur die linie leerders oor die rugbyveld stap. Die bewondering vir die man wat vir die meeste van hulle vir die meerderheid van hul skoolloopbane as “die skoolhoof” bekendgestaan het, was sigbaar in die talle glimlagte, handdrukke en drukkies wat hulle uitgedeel het.
LEES OOK: Laerskool Laeveld groet twee steunpilare
Krüger was vir agt jaar aan die stuur van Laerskool Laeveld, maar het in 2022 besluit om af te tree.
Hy sê as hy terugkyk oor sy tyd by Laeveld, al was daar vele uitstaanoomblikke, sal een van die hoogtepunte vir hom sy personeel wees. “Ons lag saam, ons huil saam en ons leef saam,” het hy gesê. “Ons geestelike samesyn in die oggende was ook vir my iets besonders. Ek gaan my personeel kwaai mis.”

LEES OOK: White River Primary learner (11) proves no dream is ever unobtainable
Alhoewel hy nou met tyd op sy hande gaan sit, redeneer Krüger dat daar te min tyd is om alles te doen wat hy wil. “Ek is besig om ‘n voëlboek te skryf wat ek aan my kleinkinders wil opdra. Ek is seker al so 16 jaar daarmee besig,” kom dit van Krüger.
Hy tree dalk af, maar terugploeg, dié sal hy nog steeds. In sy tyd as skoolhoof het hy van agter sy lessenaar opgelet dat vaderfigure in ons jeug se lewens al meer afwesig is. “Ek dink ons gemeenskap is in baie aspekte nie gesond nie, omdat ouers afwesig is. Te veel werk, te hard werk, net afwesig is,” het Krüger gesê. Om hierdie rede het hy die begeerte om by sy kerk as vaderfiguur op te tree in ‘n gemeenskap waar daar ‘n leemte is.
LEES OOK: The Lowveld’s rain is not over yet, weather service warns
Die voorsitter van Laeveld se beheerliggaam, Spanner van der Mescht, het vyf gaatjies minder op die gholfbaan gespeel om dié spesiale afskeidsgroet by te woon. “Theo het Laerskool Laeveld absoluut na ‘n volgende vlak laat groei. Hy het die skool met soveel momentum agtergelaat, dat groei en vooruitgang in ons skool nog vir jare vorentoe ‘n resultaat van sy harde werk sal wees,” het Van der Mescht gesê. ‘n Hartsmens, omgeemens, standvastige mens en ‘n ware vriend is alles terme wat hy gebruik het om Krüger op te som.
Niël Jacobs, wat die leisels by hom oorneem, het Krüger netjies in een woord opgesom, en dis nederigheid. “Ek het nog nooit gehoor dat hy grootpraat nie, nog nooit gehoor dat hy rangtrek nie en nog nooit gehoor dat hy iets forseer nie. Dit is een groot ding wat ek by hom geleer het: absolute nederigheid en dankbaarheid teenoor sy Skepper,” het hy gesê.

Jacobs is op 1 Februarie in sy nuwe pos by die skool verwelkom. Hy en sy vrou, Rozelle, is met ‘n 1941 Ford-graantrok op die veld in gery, waarna hy ‘n boodskap aan die leerders en personeel gelewer het.
