AfriForum rol daadwerklik klippe uit Lydenburgers se pad
Die afgelope maand het vrywilligers en AfriForum se plaaslike tak sy hande vol gehad met die verwoestende gevolge van die onlangse hoë reënval.

Dié buurtwag en lede van die gemeenskap het ingespring en verskeie paaie wat versper is deur bome wat ontwortel is, weer toeganklik gemaak.
Tydens dié opruimingsaksies het die buurtwag kettingsae, ligte en kegels ingespan wat die taak aansienlik vergemaklik het. Deur goeie samewerking met die gemeenskapspolisiëringsforum, is verkeersbeheer toegepas om só verskeie brandpunte in die dorp uit die weg te ruim.
Lees ook: Sportbekendes kuier by Lydenburg se Samancor-gholfdag
“Hierdie is ‘n bewys dat buurtwagte toerusting vir byna enige situasie byderhand móét hê, aangesien bome wat omval, ‘n groot risiko vir die padgebruikers en inwoners inhou,” het Hugo Fourie, ‘n plaaslike buurtwaglid, gesê.
“Dit is vir ons lekker om die gemeenskap ook op hierdie manier te ondersteun en gevaarlike situasies vir padgebruikers te verminder. Dit is ook ‘n bewys dat AfriForum se buurtwagte gereedstaan om hulle gemeenskappe in byna enige noodsituasie te dien,” het Arlo van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld, gesê.
Die Lydenburg-tak nooi die publiek uit om deel daarvan te word om sodoende ‘n daadwerklike verskil te maak: SMS die woord “Lydenburg” na 45340 (R1) om aan te sluit.
