Local news

Jong kat in Mbombela gebruik sewe van sy nege lewens met luislang op

Dié Siamese kat het nie 'n bang haar op sy pels nie en het ewe dapper die twee meter lange luislang 'n rapsie met sy kloue gegee.

‘n Jong kat se blote onkunde en erge nuuskierigheid het Sondag, 12 Maart, gesorg dat Felix, ‘n 18 maande oue Siamese kat, sewe van sy nege lewens opgebruik het.

Só spot Wiekus Bester, ‘n plotbewoner van Uitkyk, nadat sy kat bykans luislangkos geword het.

Bester sê hy het omstreeks 15:00 sy seun Wian na die buurman toe gestuur om ‘n paar spykers te gaan haal.

“Met die terugkeer het hy in die gras iets gesien rondrol, maar het aanvaar dit is een van ons simpel honde wat in die lang gras speel.

LEES OOK: Coach Jimmy and the Airlink Pumas want you at Mbombela Stadium to support the Currie Cup champions

“Eers toe hy nader kom, het hy gesien dit is Felix wat in die krullende spierlyf van ‘n luislang vasgevang is! Felix het darem terugbaklei en die slang ‘n geniepsige wond met sy kloue aan die lyf toegedien.”

Wiekus het ‘n stuk plank gegryp en die slang daarmee oor die kop geslaan. Intussen het Wian ‘n graaf gaan haal.

“Toe ons die slang met die graaf vasdruk, het hy Felix laat gaan. Hy het doodstil bly lê. Ons het gedink die twee meter lange reptiel is bokveld toe,” vertel Wiekus.

LEES OOK: JOC and law enforcement ready for EFF’s national shutdown in Mpumalanga

Hulle het brandstof gaan haal om die slang te verbrand. Toe hulle dit oorgooi, het die slang skielik lewe gekry en met ‘n vaart teen ‘n boomstam op geseil.

“Gelukkig het die luislang Felix om die middel beetgekry en kon dus nie sy longe papdruk om hom te versmoor nie. Maar as ons vyf minute later opgedaag het, was hy ‘n maaltyd.

“Na sy ontbering het Felix effens mank geloop, maar ‘n uur later het hy doodluiters uitgestrek op die sitkamerbank gelê,” sê Wiekus.

LEES OOK: Pit bulls sacrifice themselves to save Mbombela family

Intussen het hulle ‘n slangvanger se hulp ingeroep om die reptiel te kom haal.

“Die slang was egter so hoog in die boom op, dat ons ‘n lang leer moes gaan haal en die tak waarop dit gelê het, afsaag.”
Toe die tak op die grond beland, is die reptiel gevang en ná behandeling van die wond elders gaan vrylaat.

Asof die luislangdrama nie erg genoeg was nie, is hulle drie nog verder die skrik op die lyf gejaag toe ‘n meter en ‘n half lange mamba skielik uit die gras uit kom en slegs ‘n meter van hulle verbyseil.

“Maar hy was so vinnig; nog voordat ons kon reageer, het hy weer verdwyn!” sê Wiekus.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button