Local news

Innibos maak weer ’n vars draai in Mbombela

Die feeskaartjies vir vanjaar se Innibos is binnekort te koop.

Ná drie jaar se feesdroogte is dit vanjaar weer voluit Innibos Kunstefees, en kaartjies vir die feesterrein en al die toneel- en musiekproduksies kan reeds van Maandag 27 Maart by Computicket gekoop word.

Innibos vind van Donderdag 29 Junie tot Sondag 2 Julie plaas. Die Sondag is daar steeds ’n aantal produksies by verskeie venues, maar die feesterrein is dan nie meer oop nie. Die gratis Loof Hom Innibos-konsert word by Church Unlimited aangebied, met Jo Black as gaskunstenaar.

LEES OOK: Eerste atletiekdag vir hierdie woelwaters

Hierdie jaar se tema is ‘vars’, om te beeld dat die fees terug is met nuwe mag en mening, en dat dit ‘n vars nuwe hoofstuk vir Innibos is!

“Ons is baie opgewonde en dankbaar dat ons Innibos vanjaar weer in sy gewone formaat kan aanbied en hoop feesgangers sien saam met ons uit om weer voluit fees te vier,” sê Sandra Jacobs, Innibos se media- en bemarkingsbestuurder. “Ons spring ook bietjie vroeër as gewoonlik weg met die kaartjieverkope om besoekers genoeg tyd te gee om hul beplanning te doen en daarvoor te begroot.”

LEES OOK: Airlink Pumas dig deep to defeat Fidelity ADT Lions at Mbombela Stadium

Ingesluit by die toegangsfooi na die feesterrein by Hoërskool Bergvlam is vermaak van vroeg tot laat in onder meer die Bosmôl en by die onderskeie kuierverhoë. Elke aand word afgesluit met ’n konsert op die hoofverhoog, met die room van Afrikaanse musieksterre, waaronder Appel, Bok van Blerk, Francois van Coke, Elvis Blue, Die Heuwels Fantasties, Spoegwolf en Brendan Peyper.

’n Splinternuwe kuierarea, die Wingerd Kuiertuin, sal in die kunspark ingewy word, waar verskeie wynlandgoedere se wyne geproe kan word.

Op die toneelfront kan feesgangers die doyenne van Afrikaanse teater, Sandra Prinsloo, te siene kry in die drama Kamphoer. Ligter oomblikke op die verhoog sluit die komedies Laerskool Noord (met Marion Holm, Margit Meyer-Rödenbeck, Ilne Fourie en Neels Coetzee), Reünie uit die pen van Dana Snyman (met Frank Opperman), en Hans gee Herklaas horings (met Charlie Bouguenon) in. Mirakel met onder andere Dawid Minnaar, Edwin van der Walt en Rolanda Marais is ook een van die fees se vlagskipproduksies.

LEES OOK: Laerskool Barberton gaan sy 120ste met oorgawe vier

Hektoegang na die terrein word betaal per persoon per dag: Donderdag, 29 Junie, R200; Vrydag, 30 Junie, R225; Saterdag, 1 Julie, R250. Gouesirkelkaartjies is bykomend tot die hektoegang en kos R200 (Vrydagaand) en R250 (Saterdagaand). Donderdagaand is daar geen goue sirkel nie.
Kinders 12 jaar en jonger geniet gratis toegang.
’n Weekkaartjie kos R600. Kaartjies vir parkering op die feesterrein is beskikbaar teen R100 per motor per dag.

Pensioenarisse van 60 en ouer betaal R100 per dag, en dié kaartjies kan slegs tydens die fees by die hooftoegangshek gekoop word.

Vir die volledige program en skakels na die kaartjieverkope, besoek innibos.co.za.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button