‘n Wipplankdag vir Hoërskool Nelspruit op die baan en veld
NHS se A- en B- rugby-, netbal- en hokkiespanne het laasnaweek teen Dr E.G Jansen kragte gemeet in Mbombela.

Met die atletiekseisoen op ‘n hoë noot afgesluit, behalwe vir dié wat na die Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskappe op pad is, kan die Nellies nou op hul wintersport fokus.
Op Saterdag 11 Maart, het rugby-, netbal- en hokkiespanne van Hoërskool Dr. E.G. Jansen in Boksburg, asook netbalspanne van Hoërskool Barberton, aan ‘n vriendskaplike sportdag by Hoërskool Nelspruit (NHS) deelgeneem.
LEES OOK: Airlink Pumas dig deep to defeat Fidelity ADT Lions at Mbombela Stadium
Dit was maar ‘n op-en-af-dag vir NHS op die baan en veld, met veral Dr. E.G Jansen wat hulself as gedugte teenstanders bewys het.
Op die netbalbaan het slegs die o. 14B-, o. 16A- en B- en o. 17A-spanne dit reggekry om as wenners van die baan af te stap, met die o. 15B’s wat gelykop op die telbord geëindig het.
NHS se eerste netbalspan het die oorhand oor E.G. gehad en het uiteindelik met 27-18 geseëvier.
Die skool se tweede netbalspan het kragte met Barberton se eerstes gemeet en ‘n 12-10-oorwinning behaal. So ook die C- en D-spanne, waarvan hulle altesaam vyf teen Barberton gewen en twee verloor het.
LEES OOK: Eerste atletiekdag vir hierdie woelwaters
Die o. 14B-, o. 16B- en tweede hokkiespanne van NHS het reeds Vrydag 10 Maart hul staal teen hul bure, Hoërskool Bergvlam, gaan wys. Die o. 14B’s het gelykop gespeel, die o. 16B’s het gewen en die tweedes het teen Bergvlam se eerstes vasgeval. Die Nellies se eerste span het Nellie-guts teen Hoërskool Lydenburg gewys toe hulle dié met ‘n oortuigende 5-0 geklop het.
Twee seunspanne het Saterdag teen E.G. gespeel, die o. 14A’s en o. 16A’s, en albei het hul wedstryde gewen. Wat die dogters betref, het vier van die spanne oorwinnings behaal, drie het verloor en een het gelykop gespeel. Die eerste dogterhokkiespan het ‘n 0-1-nederlaag teen E.G. gely.
Dit was ‘n moeilike dag vir die Nellies op die rugbyveld met slegs drie spanne wat dit kon regkry om E.G. te uitoorlê. Die o. 14C-span het teen Barberton gespeel om nóg ‘n oorwinning vir NHS behaal. NHS se eerste span het egter groot pak in hul wedstryd gekry, met ‘n nederlaag van 0-41 teen E.G.
