Local news

Skryf ’n vars gedig vir Innibos en laat dit in ’n kunswerk omskep

Innibos gee jou hiérmee die geleentheid om 'n oorspronklike gedig in 'n ander kunsvorm te laat omskep.

In ’n projek ter viering van verskeie kunsvorme en vanjaar se eerste Innibos Kunstefees sedert die Covid-19-pandemie, is die veelsydige musikant, Lizanne Barnard, op soek na oorspronklike gedigte.

Dié gedigte sal getoonset word of in kunswerke in verskillende genres omskep word.

Innibos Kunstefees is vanjaar van 29 Junie tot 2 Julie in Mbombela en die tema is ‘vars’. Die gedigte (Afrikaans of Engels) moet by dié tema aansluit.

“Kuns kan nie in afsondering beoefen word nie,” sê Barnard. “Met Liedjiebos begin ons by die woord, maar dan kring dit uit om verskillende skeppende kunste in te sluit. Ek glo elkeen van die deelnemers sal geïnspireer word deur die samewerking, en mekaar uitdaag om so kreatief moontlik met die tema om te gaan.”

Van die kunstenaars wat genader is om van die gedigte te verbeeld, sluit in die Laeveldse keramiekkunstenaars Anton en Hanlie Bosch, en skilders Ilona Petzer en Mariana de Zwaan. Vir die toonsettings pak Barnard ’n verskeidenheid style aan, van ‘n klassieke kwartet en ’n kinderkoor tot marimba en fluit, trom en kitaar. Een van die gedigte sal ook as ’n dans verwerk word.

LEES OOK: Innibos maak weer ’n vars draai in Mbombela

Die galavertoning van Kuns inni Liedjiebos is op Vrydag, 30 Junie, om 18:00 by Christie’s at 32 on Russell in Mbombela. Die gaskunstenaar vir die aand is Jan Blohm. Van sy skilderwerk sal tydens die feesweek by Christie’s saam met die ander kunswerke uitgestal word.

Barnard benadruk daar is geen voorvereistes vir die gedigte nie. “Solank dit met die tema ‘vars’, ‘vernuwend’, ‘groei’ en ‘gelukkig’ te doene het, het die digters vrye teuels.”

Die gedigte sal uiteraard gekeur word. Die digters het tot 27 April om in te skryf.

Stuur jou gedig na lizannebarnardmusic@gmail.com. Inskrywingsgeld is R50 per gedig en kan by Word Stil, Capitec Bank, rekeningnommer 1574137164 inbetaal word. Die verwysing is die digter se naam en van, en ‘Liedjiebos’.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button