Beseerde hawelose sterf in Lydenburg
Quintin Smith (35) se liggaam is verlede Woensdag om 07:00 voor die Step Foundation-gebou, op die sypaadjie in Viljoenstraat, gevind.

Die sekuriteit het die direkteur, Hester van Zijl, gebel en gesê dit blyk of Smith reeds dood is. Sy het dadelik na die gebou gery met Netcare 911 wat reeds op die toneel was.
Sy liggaam, wat onder ‘n wit laken langs ‘n kragboks gelê het, het baie mense op pad werk toe begroet.
Van Zijl het gesê die ergste was die gerugte wat sommige mense onmiddellik begin versprei het, dat Smith aan ‘n oordosis dwelms oorlede is. Dit was volgens haar onwaar. Hy was bloot ‘n man sonder ‘n tuiste en wie se lewe ‘n onverwagte wending geneem het.

Hy was haweloos en het elke dag by Step kos kom haal en ook ons opheffingsprogramme bygewoon. As ‘n veilige hawe het hy eerder baie aande op die stoep geslaap. Soos met Smith se verhaal, poog Step om ‘n gelukkig einde vir baie haweloses te bewerkstellig.
“Hy het verlede week hard geval en het sedertdien in groot pyn verkeer. Hy is meer as een keer na die plaaslike hospitaal geneem, met die hoop dat X-strale geneem sou word. Hy is elke keer met ‘n pynstiller as troosmiddel weggewys. Ons vermoed hy het inwendige beserings opgedoen toe hy geval het,” het Van Zijl gesê.
Volgens haar is daar ongelukkig ‘n groot stigma en oordeel teenoor diegene wat op straat beland.
Vir Smith was Step sy huis en die mense daar sy familie, soos Rika Saayman en die ander vrywilligers.
Van Zijl het gesê ten spyte van die druk op straat, was Smith soggens en saans altyd dieselfde mens. Hy het sy bes probeer en altyd hulp gevra.
Lees ook: Dodelikste slang in Afrika kruip toe agter herpetoloog weg
“Die waarheid is dat die meeste mense met verslawing worstel, sommiges se middele is net meer sosiaal aanvaarbaar. Hy het sy laaste asem uitgeblaas voor ons hekke, voor die plek wat hy as sy huis beskou het. Hierdie vriendelike jong man was ‘n broer, vriend en ‘n pappa. Hy was ook eens op ‘n tyd ‘n hardwerkende man met ‘n vrou en ‘n lewe. Maar ongelukkig het Quintin op straat beland. Sy ouers is reeds oorlede. Baie oggende was hy eerste daar wanneer Step se hekke oopmaak. Hy het altyd vriendelik gegroet en dan skaam vir ‘n koppie koffie gevra.
Ai, en daardie verleë laggie as hy oor iets raas gekry het. Mieliepap met botter, suiker en grondboontjiebotter was vir hom ‘n groot bederf. Hy sal onthou word as die lang man wat altyd reg was met ‘n grappie en graag SpongeBob-hemde gedra het. Hy was eerste in die ry wanneer dit by soetgoed kom. Hy was altyd ordentlik en bedagsaam, al was dit vir hom ‘n ‘af’ dag. Rus sag, groot sagmoedige reus. Ons gaan jou tandelose glimlag mis,” het sy gesê.
Step gee daagliks vir tot ‘n 120 mense kos en verskaf ook kospakkies aan huishoudings.
Step vra die publiek se hulp om vir Quintin ‘n waardige gegrafnis te hou. Skakel Hester van Zijl by 083 945 2838.
‘n Leser wat verby die toneel gery het, het die volgende geskryf nadat sy Smith se liggaam daar gesien het:
“My vraag is. Ken jy sy storie? Was jy daar toe hy dalk iemand nodig gehad het? Ek sit al heeldag en wonder, wat het met die man gebeur dat hy leweloos daar lê en geen persoon is op soek na hom nie. Wat het in sy lewe gebeur dat hy daar geëindig het? Ek wil net sê ek het jou leweloos daar in die sand met ‘n wit kortbroek aan, sien lê. Ek het jou gesien en dit is nie my gewone roete wat ek elke dag ry nie. Dalk was daar ‘n rede. Mag jy sag en in vrede by die Here se voete rus, met Sy hande om jou. Mag jy liefde en geluk in die ewigheid vind. Jy het nie verdien wat jou toegekom het nie. Rus sag, vreemdeling.”
