Hoërskool Nelspruit se atlete maak naam vir hulself in KwaZulu-Natal, Gauteng
NHS se atlete het onlangs op verskeie venues op nasionale vlak vir hul provinsie opgestaan.
Hoërskool Nelspruit (NHS) en sekerlik die hele Laeveld-gemeenskap stoot die bors ver uit van trots ná die skitterende vertonings wat die afgelope naweek deur die plaaslike atlete in Pietermaritzburg gelewer is.
Atletiek Suid-Afrika (ASA) se o. 16-, 18- en 20- nasionale baan- en veldatletiekkampioenskappe het vanaf 23 tot 25 Maart by die Pietermaritzburgse Msunduzi Atletiekstadion plaasgevind.
Die Nellies-atlete, wat deel van die Mpumalanga-atletiekspan was, keer huiswaarts met ‘n halfdosyn individuele medaljes, waarvan Ashley Erasmus se twee goues die groot hoogtepunt was.
LEES OOK: Laevelders draf 1 000 gaatjies gholf tjoeftjaf kaf
NHS se goue dogter het vanaf die interhuis en daarna by alle vriendskaplike byeenkomste, die twee interhoërs waaraan dié skool deelgeneem het, tot nou by die SA-kampioenskappe elke keer die gewigstoot- en skyfwerpitems vir vroue 19/20 gewen.
In KwaZulu-Natal was dit dieselfde storie. Ashley het deelgeneem in die o. 20-kategorie en het ‘n nuwe Nellie-rekord van 52,35 m in skyfwerp opgestel, die verste wat ‘n atleet van Mpumalanga nog ooit kon gooi. Daarmee eindig sy meer as 5 m voor Gauteng-Noord se Lesedi Khunou (47,24 m) om die goue medalje te verower.
Die stryd om die gewigstootkroon tussen Ashley en haar sterkste uitdager, Zonnika Lindeque van Sentraal Gauteng, was spannend verby! Zonnika breek vir die eerste keer deur die 16 m-grens toe sy die 4 kg-gewig op ‘n pragtige 16,22 m laat grondvat het.
LEES OOK: Pumas squeeze in victory against rivals Griquas at Mbombela Stadium
Maar Ashley het Nellie-guts gewys, en met brute wilskrag die maatband tot by 16,35 m laat rek, en sodoende nog ‘n eerste podiumplek by haar naam gevoeg.
Nadat sy lank weens ‘n knaende besering buite aksie was, en min deur die seisoen deelgeneem het, het Shanese de Clerck vriend en vyand verras toe sy goud in hoogspring vroue 20 gewen het! Die stryd was fel, maar Shanese was vasbeslote om, soos in 2022, ‘n nasionale titel te verower. Haar wenhoogte van 1,7 m is dieselfde as dié van die ander twee medaljewenners, met nog ‘n Laevelder, Rob Ferreira se Caitlin Dehrman, wat eweneens uitgeblink het deur brons te wen.
Shanese verbeter ook die ou Nellie-rekord van 1,65 m, wat sedert 2000 staan.
LEES OOK: Sakeontbyt in Mbombela gaan gewig dra
Zoë Cilliers het ook ‘n onvergeetlike byeenkoms beleef. Nadat sy in haar uitdunne die Nellie-rekord in die 100 m (d. 15) na 12.21 sek. verbeter het, eindig sy tweede in die finaal (12.42 sek.), wat dus aan haar die silwermedalje besorg het.

Menzi Shiba en Tye Habib (beide vanjaar nog o. 15) het in die ouderdomsgroep s. 16 hulle stemme dikgemaak deur beide met ‘n welverdiende blink silwermedalje huiswaarts te keer. In die verspring het Menzi met ‘n spogafstand van 6,28 m tweede geëindig, en Tye was die naaswenner in driesprong, waartydens hy ‘n uitstekende 12,67 m gehaal het. Tye het net-net die bronsmedalje in verspring gemis, toe hy slegs 1 cm ná die tweede atleet op 6,24 m geland het.
LEES OOK: Chief Clyde Mnisi gunned down near White River
Ná afloop van die byeenkoms is die nasionale span wat Suid-Afrika by vanjaar se Afrikaspele in Zambië gaan verteenwoordig, bekend gemaak. NHS se Ashley (gewigstoot en skyfwerp) en Shanese (hoogspring) is in hierdie groep ingesluit.
Juané le Roux, nóg ‘n leerder van Hoërskool Nelspruit, het verlede week van 17 tot 22 Maart aan die Suid-Afrikaanse Sportvereniging vir Liggaamlik Gestremdes se nasionale kampioenskappe in Gauteng deelgeneem. Hier het sy daarin geslaag om drie van die bestaande rekords vir vroue o. 20 te breek. Nie net het sy hulle gebreek nie, maar sy het die onderskeie afstande met oortuigende wenafstande verbeter! Die voormalige Suid-Afrikaanse gewigstootrekord vir vroue o. 20 was 6,65 m – sy het ‘n allemintige 9,85 m gestoot. In die skyfwerp het sy dit reggekry om die rekord met 15,41 m te verpletter. Dit was 16,29 m, Juané het 31,70m gemaak. In die spiesgooi was dit dieselfde storie. Sy het die spies 25,62 m ver laat vaar, 9,92 m verder as die vorige 15,7 m.

