Local news

Die eerste landdrosgebou op Lydenburg – nog ‘n verlore gebou

Met sy lang geskiedenis as een van die paar oorspronklike Voortrekkerdorpe noord van die Gariep, spog hierdie dorp nog met enkele geboue - voorbeelde uit hierdie tyd.

Buiten die ou Voortrekkerkerk en die skoolgeboutjie, sou een van die tipiese woonhuise uit hierdie tyd ook behoue gebly het by ‘n opelugmuseum vir volksboukuns wat vir die Willem Pretorius Landboumuseum beplan was, maar toe nooit gebeur het nie.
Hier is ‘n berig uit Steelburger/Lydenburg Nuus etlike jare gelede, wat steeds die geskiedenisliefhebbers sal prikkel:

Wie onthou nog is die groot vraag:
‘n Mens wonder of daar nog van die ouer inwoners is wat onthou van die ou landdroshuis op die hoek van Bührmann-
en Langestraat.
Vandag is daar twee nuwe woonhuise op die erf. Die ouer huis van die twee, wat nou Langestraat 1 is, moes hier in die 1930’s rond gebou gewees het. Dié huis moes lank die erf met die ou landdroshuis gedeel het, want die nuwer huis is sigbaar op foto’s van die ou huis wat in Lydenburg se eeufeesgedenkboek van 1952 verskyn het.
Iewers in die vroeër sestiger jare het die vervalle grasdakwoonhuis, wat ook lank as ‘n kunstenaar se ateljee diens gedoen het, toe in die stof gebyt.
Die historiese waarde daarvan is tóé al besef. Dis opgemeet en versigtig afgebreek om eendag by ‘n beplande opelugmuseum weer herbou te word.

 

1966. Die laaste dae. Die landroshuis het sy laaste jare as ‘n kunsateljee diens gedoen. Duidelik het ‘n gedeelte van die ou pioniershuis hier al die gees gegee en is ‘n stuk afgebreek.

Voormalige kurator van Lydenburg Museum, Etta Judson, het baanbrekers-werk gedoen:
Wyle Etta Judson was lank die kurator van die museum op Lydenburg. Sy het gesê die Nasionale Kultuurhistoriese Museum in Pretoria het vroeër jare so ‘n opelugmuseum met volksboukuns beplan. Met die veranderde tye het daarvan niks gekom nie. Wat nou van die huisplanne, sorgvuldigde gebergde roustene en dakbalke geword het, weet nugter.
Foto’s van die ou landdroshuis het 15 jaar gelede met die dood van tannie Annetjie Bosman weer na vore gekom. Haar dogter, Mariëtte, was hier om haar huis op te ruim. Sy het toe die seldsame foto’s aan ons hier by die koerant geleen.

 

In die jare 60 toe die huis as ‘n kunsatelee diens gedien het.

 

Speurtog na ou geboue ook deur wyle oom Hansie Meyer voortgesit:
Oom Hansie Meyer was ‘n man met ‘n eindelose belangstelling in die streek en sy geskiedenis.
Uit ‘n afskrif van die doktorale tesis van die latere prof. Gert Duvenhage oor die geskiedenis van die Republiek van Lydenburg wat oom Hansie in sy versameling het, het ons ‘n ou straatplan van Lydenburg opgediep.

‘n Kenner van ons streekgeskiedenis, oom Hansie Meyer, voor die nuwe klinkersteenhuis op die hoek van Bührmann- en Langestraat waar die ou pioniershuisie vroeër gestaan het.

Hierop is die oudste erwe wat voor 1856 bewoon was, ook aangedui.
Die twee boonste burgererwe tussen Lange- en De Clerqstraat, bo teen wat later Bührmanstraat sou word, het behoort aan Cornelius Potgieter. Ook die langwerpige huis op die hoek van die boonste erf word op die kaart aangedui.By die foto van die huis op bladsy 121 in Lydenburg se Eeufeesgedenkboek van 1950 sê nog ‘n bekende streekshistorikus, PA van der Merwe, dat dit die huis van Jacob de Clerq jr. was.

Meer oor Jacob de Clerq:

Jacob de Clerq jr. was die eerste landdros van Lydenburg. Potgieter het De Clerq eers in 1860 as tweede landdros van Lydenburg opgevolg. Aan wie die huis behoort het, en of altwee dit tydens hulle ampstermyne bewoon het, kon nêrens opgespoor word nie.
De Clercq is in 1824 gebore en maak die Groot Trek as opgeskote seun mee. Sy vader is die eerste landdros op Winburg en later Klerksdorp. Hy trou in 1848 met Martha van Rensburg. Hulle het 11 kinders. As Trekkerkind het De Clerq ‘n merkwaardige en goeie skoolopvoeding gehad. Hy had later self moeite om van Lydenburg na Natal toe te ry om ‘n meester Hendriks vir sy eie kinders se skoolopvoeding te gaan haal.
De Clerq is in 1850 een van die eerstes om van Ohrigstad na die gesonder klimaat van Lydenburg te verhuis. Van der Merwe, skryf hy, gaan woon op die hoek van Lange- en Bührmanstraat.

Die straatplan uit prof. Gert Duvenhage se tesis oor die Republiek van Lydenburg wat die eerste bewoners en strukture in die omgwing van die kerk en die landdroshuis aandui.

Meer oor Lydenburg se landdroste:
Potgieter was die tweede vaste landdros van Lydenburg. Gebore in 1816, was hy ‘n neef van die Voortrekker hoofkommandant Andries Hendrik Potgieter. Hy was getroud met Kattotjie Espag. Hy het sy taak as landdros vanaf 1860 tot 1869 uitgevoer toe hy dood is aan swartwater.
Andries Hendrik Potgieter was ook Volksraadslid van die Republiek van Lydenburg voordat daar met die res van die Voortrekkergemeenskappe in die Transvaal saamgesmelt is.
Hy was een van die eerstes om ‘n huis in Lydenburg te bou. Dit bring verwarring oor wie dan die landdroshuis gebou het, De Clerq of hyself. Potgieter is na sy dood opgevolg deur Arnold Jansen.

Dié Hollander het hier aangekom as onderwyser:
Hy is later getroud met Anna Malan, dogter van Jacob Malan. Malan is vandag nog bekend vir sy betrokkenheid met die twee ruiltransaksies met die Pedi’s en Swazi’s wat die hele Oos-Tranvaal wat destyds feitlik onbevolk was, in Voortrekker-besit gelaat het.
Met die Britse anneksasie van Transvaal moes Jansen sy amp neerlê. Hy hervat dit egter weer ná die Boere se oorwinning by Majuba in 1881 en die herinstelling van die Republiek met Paul Kruger as president.
Jansen sterf in 1895. Dis egter onseker of hy en sy gesin ook in die landdroshuis gewoon het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button