Local news

Man na bewering deur Ermelo-skoolpersoneel aangerand

'n Ermelo-skool het enige vorm van aanranding ontken ná 'n man beweer het hy is onlangs in Mbombela deur van die skool se personeel aangerand.

‘n Saak van aanranding is by die Nelspruit SAPD aangemeld, nadat ‘n Mbombela-man (25) beweer hy is gedurende die oggendure van 26 Maart deur ‘n groep personeellede van ‘n Ermelo-skool bygedam.

Volgens konst. Bongani Mokoena was ongeveer ses mense betrokke by die beweerde aanranding naby ‘n onderneming langs die R40. Geen inhegtenisnames is nog gemaak nie, maar die ondersoek duur voort.

Ná afloop van die insident het die man se vrou aan Laevelder verduidelik hoe die gebeure ontvou het. Haar man was Saterdagaand (25 Maart) in ‘n gewilde kuierplek in die stad. Hiér was daar ook ‘n groep mans met Ligbron Akademie vir Tegnologie-klere aan.

LEES OOK: Oud-Laevelder loop in die Kaap weer sy rieme styf

Sy beweer die mans het reeds binne-in die kuierplek begin moeilikheid maak met ‘n groep waarby haar man ook gestaan het, waarna hulle deur sekuriteit gevra is om die perseel te verlaat.

Die bestuurder van die kuierplek het egter ontken dat die groep gevra is om te loop. Inteendeel, volgens hom het die groep die kuierplek gekomplimenteer voor hulle huis toe is.

Die vrou beweer toe haar man buite die kuierplek kom, was die Ligbron-groep ook daar en het hulle hom gevloek en uitgedaag. Hierna het hy buite die perseel gaan wag vir ‘n vriend om hom op te laai.

Een van die man se tande is uit en een is gebreek.

“Die bestuurder van die skoolbussie het na die rigting van my man aangery gekom, wat dit laat lyk het of hulle hom wou raakry. My man wou die bestuurder waarsku oor hy so naby aan hom verbygery het.”

Gedurende die beweerde waarskuwingspoging het hy die bussie se nooduitgangruit geklap en dit gebreek.

Sy beweer die manne het toe uitgespring en op haar man afgestorm.

“Hy het besef dat hy nie alleen al die manne gaan kan keer nie, en het begin hardloop. Hy het gehardloop tot hy gevoel het sy knie begin ingee as gevolg van ‘n ou rugbybesering, en het op die gras neergeval.

“Daar het hy gehoop die manne sal hom nie kom soek nie, en het gerus. Hulle het wel agterna aangehardloop gekom en hom kom soek.”

Sy beweer hulle het op hom afgestorm toe hulle hom kry. Hy het volgens haar in die gras gelê waar lede van die groep hom aangerand het deur hom in sy gesig te skop en ook te slaan.

LEES OOK: Sonpark knife attack case postponed to April

Die man se vrou sê hy het sy bewussyn verloor. Terwyl hy in hierdie toestand was, beweer sy een van die groepslede het op hom geürineer.

In antwoord op Laevelder se navraag het die skool se regsverteenwoordiger, Erhard Prinsloo, soos volg gereageer:

“Ligbron ontken enige vorm van aanranding. Ons gee ons volle samewerking aan die SAPD en sal ‘n volledige verklaring aflê soos deur die SAPD benodig.

“Die bewering wat die persoon gemaak het, is nie waar nie. Ligbron het wel ‘n saak van opsetlike saakbeskadiging gemaak.”

Die man het na bewering ernstige kneusplekke op sy kop, oog, lip, nek en ore. Een van sy tande is ook uit en een is gebreek. Hy het glo ook kneusplekke aan die regterkant van sy ribbekas en krapmerke op sy rug.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button