Motiveringspreker van Lydenburg stel nuwe pennevrug bekend
Heidi Betz vier die feit dat sy 'n semifinalis is in die Supreme Queen Global Earth Africa met haar boek, Reviving Sisterhood.
Toe Heidi Betz die eerste keer in 2021 aan ‘n skoonheidskompetisie deelneem, moes sy selfvertroue vind om deur te druk.
Dieselfde jaar is sy as die eerste prinses in die Mev. Heelal Suid-Afrika aangewys. Op 22 Maart het sy haar eerste boek, Reviving Sisterhood, by Café Crust bekendgestel, omring deur vriende wat saam ‘n glasie sjampanje geklink het.
Verlede week het Betz verdere hoogtes bereik en is Saterdag aangewys as een van die semifinaliste in die Supreme Queen Global Earth Africa.
“Dis alles vir my ‘n volsirkeloomblik en bewys dat ‘n mens doelwitte kan bereik as jy hard werk,” het Betz gesê.
Supreme Queen Global Earth Africa, in samewerking met Mev. Wêreld Suid-Afrika, is ‘n nuwe kompetisie wat geskep is met die doel om ‘n platform te bied vir alle vroue tussen die ouderdomme van 21 en 55 van ‘n Afrika-land. Die titel van Betz se boek is in hierdie konteks juis relevant. Soos met hierdie kompetisies glo sy daaraan dat vroue susters vir mekaar moet wees, hetsy hul bloedfamilie is of nie.

“Ek wonder altyd hoekom jaloesie sy lelike kop uitsteek. Ek het altyd gehoor as iemand nie van jou hou nie, is hulle net jaloers. Maar waar het die jaloesie in die eerste plek ontwikkel? Daarom het ons ander vroue in ons lewe nodig wat ons ondersteun omdat hulle in ons glo. Dan sal die jaloerse en bevooroordeelde vroue se impak op jou lewe verminder. In Reviving Sisterhood poog ek om ander vroue te bemagtig. Ek voel vroue het mekaar as susters nodig. ‘n Susterskap is ‘n groep vroue wat saam lag, saam voel, saam bid en saam genees. Moet nooit opgee nie. Wanneer tye moeilik is, is dit wanneer die mooiste dele van jou siel weer bymekaargesit word. Jy kan soveel meer wees. Jy verdien die mees intense, geseënde en merkwaardige toekoms.”

Betz deel in Reviving Sisterhood dat sy in 2017 in ‘n ernstige motorongeluk was. Sy glo die Here het haar daardeur gelei om ‘n verskil in ander vroue se lewe te maak, en met vroue oor die wêreld heen in verbinding te tree. Sy het God feitlik gesmeek om haar lewe te spaar.
Sy het eers ‘n paar jaar daarna, in 2021, die geloof in haarself gehad om aan Mev. Heelal Suid-Afrika deel te neem. En die deure het vir haar oopgegaan as motiveringspreker. Sy tree by damesoggende op, en haar dagstukkievideo’s op sosiale media lok groot getalle kykers.
Boonop is sy ‘n professionele grimeerkunstenaar. Tog is dit vir haar die belangrikste taak om ‘n ma vir twee blondekopdogtertjies te wees en ‘n vrou vir haar man.
Betz se boek is tans by PNA The Heads in Lydenburg beskikbaar.
