Sakeontbyt met kenners in Mbombela bied ‘n blik op wat in 2024 inwag
Hierdie kenners meen met harde werk en innovasie kan sakeondernemings die onstuimighede van Suid-Afrika oorleef. Dit en meer is tydens 'n sakeontbyt in Mbombela bespreek.
Sowat 200 mense uit die omgewing se sakegemeenskap het Dinsdag, 28 Maart, by Church Unlimited bymekaargekom vir die eerste Sakeontbyt, aangebied deur Laevelder en die aanlyn nuuskanaal, Nuuspod.
Prof. André Duvenhage, politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit, Helen Zille, voorsitter van die DA se federale raad, en adv. Stefanie Fick van Organisation Undoing Tax Abuse (Outa), was die sprekers van die dag, en Nuuspod se Izak du Plessis het die verrigtinge gelei.


Die gehoor is ook die geleentheid gegun om vrae aan die sprekers te rig.
Die antwoord wat hierdie byeenkoms beoog het om te vind, was of daar ‘n toekoms vir sakeondernemings in vandag se onstuimighede is.
LEES OOK: Drama-drama by vanjaar se Innibos
Al drie sprekers was dit eens dat die uitdagings baie groot is, maar dat harde werk en innovasie die wa deur die drif kan trek.
Dit het dadelik aan die lig gekom dat 2024 se verkiesing ‘n reuseinvloed op hierdie kwessie het.
Die idee dat die ANC slegs sowat 37% van die stemme in die 2024-verkiesing op hom kan verenig, is ‘n hersenskim wat talle Suid-Afrikaners ontnugter gaan laat. Dit was Duvenhage se boodskap. Hy het dit gewaag om ‘n uitkoms vir volgende jaar se nasionale verkiesing te voorspel. “Ek gee die ANC 45% van die steun, met 41% as slegste scenario,” het hy gesê. “Wat my bekommerd maak hieroor, is dat die EFF op 12% en 13% dan as koalisievennoot deel word van die som, wat vir Suid-Afrika dalk groter hoofbrekens kan besorg.”


Duvenhage meen die VF Plus behoort nie meer as 3% steun te kry nie, en dat Action SA hoogstens 4% van die kiesers se kruisies sal trek. Volgens hom lyk dit met die huidige stand van sake of die DA selfs soveel as 27% van die steun kan kry.
Zille het Duvenhage se voorspellings beaam. “Ons eie peilings vergelyk goed met prof. Duvenhage se voorspelling. Dit wys net hoe negatief krities baie van die Suid-Afrikaanse media teenoor die DA is,” sê Zille, met verwysing na sekere media-instellings en ontleders wat die party nie veel kans in die komende verkiesing wil gee nie.
LEES OOK: Pi-dag maak wiskunde vir Laeveld-leerders pret


“Met hul negatiewe uitkyk op die party ontken hulle die groot rol wat John Steenhuisen speel om die party te bestendig en te konsolideer op pad na 2024.”
Fick meen die onbestendigheid wat tans in die land heers ten opsigte van beurtkrag, politieke onstabiliteit en korrupsie, bied aan Suid-Afrikaanse gemeenskappe die geleentheid om soos nog nooit tevore hande te vat en aktief mee te werk aan ‘n beter toekoms.
“Daar bestaan geen rede waarom Suid-Afrikaners moet moed opgee net omdat die regering onbevoeg is nie. Juis nou moet jy jouself beskikbaar stel om deel te word van gemeenskapsaktiwiteite wat daarop gemik is om jou omgewing te verbeter,” sê sy.


Al drie die sprekers het dit duidelik gestel dat hulle nie groot voorstanders van ‘n belastingboikot is nie. “Hoewel dit na ‘n aantreklike opsie klink, moet ons onthou dat die Suid-Afrikaanse belastingbasis baie klein is, en dat ‘n boikot min tot niks sal uitrig om verandering mee te bring.”
Hou Laevelder en Nuuspod se Facebook-blaaie dop vir die aankondiging van ‘n moontlike tweede Sakeontbyt, nader aan die einde van die jaar.














