Hoërskool Lydenburg se leerders geniet hul akademiese toer onder die stadsligte
’n Dromsessie en 'n rockmusiekblyspel by Monte Casino is net 'n paar aktiwiteite wat die leerders geniet het.

Hoërskool Lydenburg (LHS) se top vyf leerders van elke graad het die skoolbus vol gesit toe hulle akademiese toer op
17 Maart afgeskop het.
Vrydag het die bus reguit na die Noordwes Universiteit in Potchefstroom vertrek vir ‘n besoek sonder gelyke, waar hulle meer geleer het van die High Performance Institute (HPI) van SimLabs, die wetenskapsentrum en middagete in die grootste eetsaal op die kampus, Voorhuis, geniet het.
Daarna het sommige oud-LHS-leerders, wat nou by die universiteit studeer, kom groet en die leerders het met die onderskeie SAMindEscape Room- kamers kennis gemaak.
Na ‘n heerlike aand by die Raaswater River Lodge het hulle die Saterdagoggend Parys toe vertrek en outydse foto’s by ‘n ateljee laat neem.

Saterdagmiddag het hulle ‘n dromsessie by Klitzgras Drumming in Tierpoort meegemaak en Sondag het die bus terug Johannesburg toe vertrek.
Die groot trekpleister vir Sondag was by Monte Casino. Die leerders het die splinternuwe produksie en bekroonde wêreldtoer van Queen en Ben Elton se rockmusiekblyspel, We Will Rock You, bygewoon.
Op die tweede laaste dag van die toer, die Maandag, het hulle Momentum en Akademia besoek om opsies vir naskoolse studies te bespreek.
“Die akademiese toer is vir my een van die hoogtepunte van die jaar. Ons kan ons kinders blootstel en die blink in elkeen se oë sien. Dit maak dit die moeite werd. Dis ‘n voorreg om Hoërskool Lydenburg se naam hoog te hou en die skool te verteenwoordig. Dankie ook aan Michael van der Merwe, die hoof, en die ouers wat die toer moontlik gemaak het. Daar het baie beplanning ingegaan, maar elke sekonde daarvan was die moeite werd,” het Chrismari Aucamp, die adjunkhoof, gesê.

