Local news

Jimmy Stonehouse 10’s droom groot

Die eerste weergawe van dié toernooi is gevul met aksiebelaaide rugby, samesyn en 'n gesellige stemming.

Een-en-twintig rugbyspanne van regoor Mpumalanga het 25 Maart by die Mbombela Stadion byeengekom vir een gemene doel; om die eerste Jimmy Stonehouse 10-man Rugbytoernooi se trofee met trots te lig.

Ses klubs van die Hoëveld en 13 plaaslike Laeveld-klubspanne het aan Saterdag se toernooi deelgeneem. Die Pumas Rugbyinstituut-span en die Pumas Legends-span is genooi om ook op die veld te verskyn.

Chumani Booi, koördineerder van die ontwikkeling van rugby by die Pumas Rugbyunie en bestuurder van die toernooi, het gesê dat die doel grotendeels was om die rugbygemeenskap van Mpumalanga, wat ook deel van die Pumas-familie maak, saam by een venue te verwelkom om te kan sosialiseer en ‘n dag van rugby en geselligheid te geniet. “Ons het ‘n geleentheid gesien om almal op een plek bymekaar te bring deur ‘n omgewing te skep wat spreek tot ons familiewaardes, wat baie belangrik is vir die kultuur van die Pumas.”

LEES OOK: Pumas verras jong rugbyspeler wat teen lupus veg

Die span se hoofafrigter, Jimmy Stonehouse, na wie die toernooi vernoem is, was dit eens en het gemeen dit was hul poging om iets terug te gee. Vir hom is dié toernooi half iets vir sy nalentenskap aan rugby in die provinsie. “Ek is nou al so te sê deel van die meublemente hier by die Pumas,” het Stonehouse skertsend in ‘n onderhoud gesê. Hy het bygevoeg dat die hulle ook met die dag gepoog het om te wys dat die unie nie net aan die professionele span aandag wil skenk nie, maar ook aan die klubs in die omgewing.

Die volgende spanne het met mekaar sake uitgespook in die rondomtalie-rondes van die toernooi; Witrivier 1 en 2, Sasol 1 en 2, Nelspruit 1 en 2, die Ratels, Bethal Buffels, Malelane, Hazyview, Barberton 1 en 2, die Krielsaders, UXI Pumasinstituut, Pumas Legends, TUT, Black Cats, Ermelo, UMP, Matsulu en Lydenburg 1.

LEES OOK: Lowvelder Samantha Sanders and teammate Riaan Weideman conquer muddy mayhem, mountains and valleys at Cape Epic

Die UXI Pumasinstituut-span het die skildafdeling van die toernooi gewen toe hulle die Matsulu Rugbyklub ore aangesit het deur die finaal 45-0 te beklink.

In die bekerfinaal het Sasol 1 en Witrivier 1 sake uitgespook in ‘n wedstryd waar daar nie veel punte aangeteken is nie. Sasol was egter die enigste span wat punte op die telbord kon plaas en het die klub van Witrivier 10-0 geklop om as die eerste Jimmy Stonehouse 10’s-kampioene gekroon te word.

LEES OOK: Drama-drama by vanjaar se Innibos

Daar was ook R30 000 se prysgeld op die spel, waarvan R1 000 gegaan het aan die skeidsregter van die toernooi, Martin Lombard, R500 aan die beste speler in die skildtoernooi, Stephen Taylor, en ook R500 aan PJ van Zyl, die speler van die bekerafdeling.

Die skild- en bekerwenners het onderskeidelik ook R6 000 en R10 000 ontvang, sowel as die naaswenners wat
R4 000 en R8 000 gekry het.

Booi en Stonehouse stem saam dat die toernooi ‘n reusesukses was en dat dit reeds op die unie se doenlysie vir volgende jaar is. “Ek dink dit kan nog ‘n baie groot ding word, soos die Cape Town 10’s!” het Stonehouse gesê. Hulle beoog om dit ‘n jaarlikse instelling te maak en dalk selfs een of twee spanne van buite die provinsie ook te betrek.

LEES OOK: Fast-paced running to victory in NMC Fast Race 3-in-1

Booi het gesê dat die toernooi en sy sukses nie moontlik sou wees sonder die inkoop en toewyding van die plaaslike klubs nie, veral dié wat ver moes ry om deel te wees, en hy wil graag elke klub en speler hartlik bedank.

Die organiseerders van die toernooi bedank hul borge: The Grove SUPERSPAR, Rooikat Liquors, H20, J Jacobs en Vennote, Talking Turf en natuurlik die Mbombela Stadion.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button