Innibos-verhoogstukke: Só word jong akteurs oud vir ‘n rol
Innibos se eie jong TikTokker het onlangs in die grimeerstoel gesit om uit te vind hoe akteurs hul gedaanteverwisselings ondergaan vir 'n rol. Kyk na die video hier:
Akteurs en glanspersoonlikhede is gewoonlik sinoniem met verjongingskure, maar as ‘n rol dit vereis, kan jeugdige akteurs vinnig met die nuutste tegnologie en grimeerkunsies in ‘n ou dame of man omskep word.
Innibos Kunstefees het vanjaar twee produksies waarin jong akteurs ouer of bejaarde karakters vertolk.
Die jonge Desiré Gardner, bekend vir haar rolle in Roepman, Binnelanders en Suidooster, vertolk deesdae die rol van Magda Louw in die gelyknamige produksie, wat haarself in haar herfsjare bevind. Hierdie kykNET-televisiereeks is vir die verhoog verwerk en is by Innibos op die planke.

Vir die televisiereeks moes die twee hoofkarakters, Gardner en Hannes van Wyk, ure in die grimeerstoel deurbring om hulle in middeljariges te transformeer.
LEES OOK: Drama-drama by vanjaar se Innibos

In beide Hans steek die Rubicon oor en Hans gee Herklaas horings vertolk die jeugdige Charlie Bouguenon die rol van die 92-jarige Hans van Kraaienburg. Met toepaslike grimering en baie akteursvernuf klim hy pens en pootjies in dié bejaarde karakter in.


Beide hierdie produksies is topverkopers by teaters landswyd asook by kunstefeeste soos die Suidoosterfees en KKNK.
LEES OOK: Koop nou al jou kaartjies vir Innibos!
Innibos se jong TikTokker, Ané Niehaus, het spesiaal Rand toe gery om by Oakfield College te gaan kers opsteek oor hoe akteurs so ‘n gedaanteverwisseling ondergaan. Oakfield College bied kursusse in drama, grimeerkuns, spesiale effekte, musiekteater, ontwerp en vele meer aan.

Sy wou self sien hoe dit gedoen word en ‘n spesiale sessie is met die lektor, Alet Dreeckmeier, gereël om hierdie bloedjonge juffer oud te laat lyk.
Die hele proses is op film vasgelê. Gaan kyk gerus daarna op TikTok onder @fees_vlooi, of kyk na die video hier.
Innibos vind vanjaar vanaf 29 Junie tot 2 Julie plaas. Die volledige Innibos-program is op www.innibos.co.za beskikbaar.
