Local news

NHS-atlete lewer uitstekende vertonings by SA skolebyeenkoms

Die Nellie-atlete het weer eens hul staal gaan wys, daar waar sommige ander skole dit nie eers meer durf waag nie!

Die jaarlikse Atletiek Suid-Afrika (ASA) skole-atletiekbyeenkoms wat op 3 tot 5 April in Germiston plaasgevind het, was in verskeie opsigte ‘n antiklimaks, veral ná ASA se nasionale junior- en jeugbyeenkoms die vorige naweek (23 tot 25 Maart) in Pietermaritzburg.

Etlike skole, veral uit Noord-Gauteng, is nie eens meer gepla om ‘n span na die skolebyeenkoms toe te stuur nie, en verkies eerder die laasgenoemde junior- en jeugbyeenkoms. By dié neem slegs o. 16’s, o. 18’s en o. 20’s deel aan baan- en velditems.

LEES OOK: Tweejarige van Barberton oorleef te danke aan laaste voorraad teengif

Hoërskool Nelspruit (NHS) se groep atlete wat wel by die Germiston-byeenkoms was, kon na ‘n hele paar baie goeie vertonings en selfs ‘n persoonlike beste of drie, tevrede huiswaarts keer.

Tye Habib. > Foto: Stefan de Villiers

Tye Habib moet beslis genoem word! Hy het na sy silwermedalje in driesprong seuns o. 16 by die ASA junior- en jeugkampioenskappe (12,67 m) weer eens uitstekende rekenskap van homself gegee, deur hierdie keer ‘n bronsmedalje (12,43 m) te verower. Twee medaljes, een by elk van die nasionale byeenkomste, is werklik ‘n baie goeie vertoning!

LEES OOK: Hoërskool Rob Ferreira rakes in the medals at SAs

Nog ‘n atleet wat rede het om breed te glimlag, is Anele Mkhonto. Hy is vanjaar nog in die seuns o. 16-ouderdomsgroep, en moes telkens teen ouer teenstanders te staan kom. In Pietermaritzburg was hy vyfde in die finaal vir die 800 m seuns 18 (1:55.46), en al kon hy in Germiston net ‘n sewende plek (o. 17) loshardloop, het hy ‘n volle sekonde op sy beste tyd verbeter. Sy 1:54.40 verbeter die bekende NHS-rekord van 1:55.44 van Gronighan Grobler wat sedert 2013 staan – die eerste keer dus dat ‘n o. 16-seun van NHS die 800 m in onder 1:55 kon voltooi.

David Botha het sy allerbeste gegee in die spiesgooi seuns o. 17, maar kon net-net nie daarin slaag om die 700 g-spies verder as 60 m te laat grondvat nie. Hy eindig algeheel vyfde met ‘n mooi afstand van 59,83 m.

LEES OOK: Lydenburg athletes excel at SA’s and bring home gold 

Angelica Graham (o. 19) het haar ook uitstekend van haar taak gekwyt, deur die eindronde van die 200 m te haal, en ‘n nuwe persoonlike beste tyd van 25.73 aan te teken. Ook Zané Nel (o. 15) se 876 ASA-tabelpunte in gewigstoot (12,82 m) was werklik iets om te aanskou te midde van baie sterk mededinging.

NHS is ook baie trots op hierdie atlete en hul onderskeie afrigters.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button